GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 1 APRIL 2024
RCL JAAR B – WEEK NA PAASFEES
(Gebed na aanleiding van Psalm 118:1-2, 14-24)
Ek juig oor die dag wat die Here gemaak het.
Ek verheug my in U, Here van die Opstanding.
Saam met regverdiges prys ek U, God wat lewe.
U open poorte na geregtigheid.
Dankie Here, vir die viering van Paasfees.
U het die klip wat die bouers afgekeur het,
die hoeksteen gemaak tot die ewige lewe.
Die steen voor Jesus se graf, het U weggerol.
Christus lewe! Hy is opgewek.
U verlos uit dood, lewende God.
Dis ’n wonder in ons oë.
Ons prys U, want U is goed.
Here, deur die herinnering van Paasfees –
moet ek, Opstandingsmens, juigend getuig;
die Here het tot my hulp gekom.
Ook ek, in Chtistus, sal nie sterf nie.
Opstandingsmense leef, Here!
Ons leef met u boodskap in die hart.
Ons leef om te vertel van Paasfees;
Jesus het die dood oorwin.
U het ons nie aan die dood oorgegee nie.
God van Opstanding en lewe –
die poorte na geregtigheid is nou oop,
vir my en vir mede-gelowiges in Christus.
Reverdiges mag ingaan. Ek deel daarin.
Ons prys U, God wat lewe –
U het óns gehelp.
Ja, U is als wat goed is!
Vir ewig duur u troue liefde.
Amen