Gaan vertel wat gebeur het

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Eerste Week na Paasfees Jaar B: Vrydag 5 April 2024

MARKUS 16:1-8

Die Christelike Kalender (Kerkjaar/Liturgiese Jaar) bring ons by week een van die Paasseisoen. Die seisoen begin met die viering van Jesus se opwekking uit die dood op Paassondag; nuwe lewe in Christus. Dié seisoen loop deur die viering van Jesus se Hemelvaart tot Pinkstersondag, met die Kerk van Christus se viering van die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2).

Markus 16:1-8 was Revised Common Lectionary se evangelielesing vir Paassondag. Die vroue het vroegoggend na die graf gegaan om Jesus te salf en staan ontnugter voor die oop graf. ’n Jong man met ’n lang wit stola om het hulle meegedeel Jesus is weg! Die jong man het die vroue beveel om vir Petrus en die dissipels te gaan sê Jesus gaan hulle vooruit na Galilea toe.

Jesus se opstanding daag die vroue, Petrus en dissipels uit om die verhaal oor Jesus se lewe te her-besoek. Die verwysing na Galilea (vers 7; vgl. Mark 14:28) is ’n uitnodiging om terug te kyk vanuit die perspektief van Jesus se opwekking en kruising. Wat het die dissipels van Jesus gesien en beleef in Markus 1-9, tydens sy Galilea bediening? Eers as “gekruisigde” wat uit die dood opgewek is (Mark 16:6), kan Jesus se vroeëre bediening ten volle waardeer word.

Markus lê besondere klem op die rol van die vroue by die graf. Vrees oorval die vroue, sodat hulle haastig van die graf wegvlug en niks vir iemand sê nie (vers 8). Die Evangelie sluit op dié noot vreemd af, of dalk juis nie? Die vroue se vrees en stilte is dalk juis die gepaste reaksie, ná die bekendmaking van die grootste nuus ooit: Jesus se graf is leeg!

Die nuwe weg wat Jesus aandui is juis dié van eerbiedige swye as vertrekpunt vir dissipelskap. In teenwoordigheid van die opgestane Christus staan mens in verwondering. Ons behoort die vroue as rolmodelle te neem. As eerste getuies van die leë graf, het hulle met eerbied op Jesus se teenwoordigheid reageer, voor hulle oorhaastig oor Hom gaan praat het.

Die Nuwe Testament geleerde NT Wright, is oortuig dat Jesus in die Evangelie volgens Markus sy dissipels wil leer dat Hy sal ly, doodgemaak word en weer uit die dood opstaan. Die dissipels was wel daaroor verward, maar Markus wou nie die dissipels vir ewig in die duister hou oor die betekenis van Jesus se opstanding uit die dood nie (Mark 9:10)

Jesus wou aan die vroue en aan die dissipels bevestig dat Hy inderdaad in ’n nuwe liggaamlike vorm lewe. Hy het hulle ook opdrag gegee om die werk te gaan doen wat vir hulle voorlê (Mark 13:10). Die manier waarop Markus se vertelling nou eindig – stomp en oop – spoor ons juis aan om die geloof van die vroeë kerk te ondersoek, asook ons eie geloof, naamlik dat God Jesus werklik uit die dood opgewek het.

Markus se stomp einde van die verhaal nooi ons uit om dit self te voltooi. Ons moet nadink oor die effek van Jesus se opstanding en die opdragte wat die Here vandag vir ons het; om die hele wêreld in te gaan en die evangelie aan die hele mensdom te verkondig (Mark 16:15).