Geseëndes

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 8 APRIL 2024
RCL JAAR B – TWEEDE WEEK VAN PASE

(Gebed na aanleiding van Psalm 133 saam met Handelinge 4:32-35)

Vader van die gekruisigde opgestane Christus.
Ons peins in die tweede week van Pase,
oor hoe Jesus se opstanding uit die dood
die nuwe geloofsgemeenskap hervorm.

God van nuwe lewe, in die tyd ná Paasfees –
besin u kerk oor lewe in die Heilige Gees.
Ons begeer om toegewyd uitdrukking te gee
aan ons lewe as Heilige Gees gemeenskap.

Here, Handelinge 4 gee ’n saamgeperste foto,
van die vroeg Christen geloofsgemeenskap,
wat U en mekaar in eenheid van hart en siel dien;
aangespoor deur Jesus se opstanding uit die dood.

Met Paastyd gee Psalm 133 vir ons geloofstaal, Here –
in ons verlange na Jesus se Opstandingsgemeenskap.
Ons bid vir ’n gemeenskap van harmonie en eenheid,
tussen broers, susters, vriende, naastes en genote.

Ons wil u geskenk van lewe met mekaar deel, Here.
Ja, dit is ware wysheid, God van lewe –
as geloofsgenote U eensgesind aanbid
en mekaar met u gawes dien.

Here, ons bid vir ons geloofsgemeenskappe;
dat hul daaglikse leefwyse as Opstandingsmense,
gegrondves is in aanbidding tot die lewende Christus,
om soos kosbare olie elke lewensterrein te salf.

Vader van Christus, mag ons aanbiddingsplekke –
heilige ruimtes wees van ontmoeting met U,
waar ons ontvangers kan wees van u seën
en lewe vir ewig in u teenwoordigheid.

Ja, dit is ware wysheid, God van lewe –
as geloofsgenote U eensgesind aanbid
en mekaar met u gawes dien.

Here, ons wil u koninkryk laat kom.

Amen