Glo sonder om te sien

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Tweede Week van Pase Jaar B: Vrydag 12 April 2024

JOHANNES 20:19-31

Die Johannes-evangelie vertel die verhaal oor Jesus se tyd op aarde, nadat Hy uit die dood opgewek is. In ons Skrifdeel verskyn Jesus by twee geleenthede aan sy dissipels na sy opstanding. Die eerste geleentheid is laat die aand van die eerste dag van die week, in die afwesigheid van Thomas. Die tweede geleentheid is agt dae later, toe Thomas ook by was.

Jesus se twee verskynings aan sy dissipels ontlok uiteenlopende reaksie by Thomas. Op die ander dissipels se mededeling dat hulle vir Jesus gesien het toe hy nie by was nie, is Thomas se skeptiese antwoord: “As ek nie die merke sien nie… sal ek nooit glo nie” (vers 25). By Jesus se tweede verskyning aan die dissipels, nooi Hy Thomas om die merke aan sy liggaam te kom voel en na Hom te kyk (vers 27). Daarop sê Thomas vir Jesus: “My Here en my God!”

Nadat Thomas Jesus herken en bely het as sy Here en sy God, vra Jesus vir hom ’n vraag en gebruik twee woorde (vers 29) wat Thomas ook in vers 25 gebruik het: “sien” en “geloof”. Die sien sintuig is prominent in dié verhaal eenheid. In vers 20 ‘wys’ Jesus sy hande en sy sy vir die dissipels. Hulle reageer verheug toe hulle deur die ‘sien’ van die merke aan sy hande en sy sy, Hom herken. Hulle vertel vir Thomas dat hulle die Here ‘gesien’ het (vers 24). Thomas dring aan om te ‘sien’ en te ‘tas’ alvorens hy glo (vers 25).

Agt dae later verskyn Jesus weer tussen sy dissipels en nooi Thomas om homself te vergewis van die waarheid van die ander dissipels se mededeling dat hulle die Here ‘gesien’ het. Jesus se uitnodiging aan Thomas om deur sien en voel oortuig te word, beklemtoon Jesus se deernis en begrip vir Thomas se menslike natuur. Jesus wil dat Thomas glo en nie langer ongelowig is nie (vers 27). Jesus verduur klaarblyklik Thomas se skeptiese houding met empatie.

Jesus se vraag aan Thomas bring die gronde vir sy herkenning en belydenis aan die bod. Glo hy Jesus is sy Here en sy God net omdat hy vir Jesus ‘gesien’ het. Die toonaard van Jesus se vraag suggereer dit is wel die geval. Tog blyk dit dat Jesus dié belydenis as eg ontvang. Daar skemer egter ’n kritiese toon deur in Jesus se saligspreuk: “Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het” (vers 29). Sien is vir Jesus nie gelyk aan glo nie.

Jesus se woorde aan sy dissipels in vers 21 geld ook vir ons as dissipels van die opgestane Here in die jaar 2024 en daarna: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ons is óók ‘hulle’ wat tot geloof gekom het deur die getuienis van Jesus se apostels. Ons is ‘hulle’ wat nie gesien het nie, maar glo. Jesus stuur ons vandag na hulle wat soms kragdadig verkondig hulle sal nooit glo nie, tensy…

Ons glo Johannes se woorde dat Jesus die Christus is. Ons het soos die vreesbevange dissipels die Heilige Gees ontvang en leef, soos hulle, onder Jesus se vredesgroet. Nou stuur Jesus ons na mense wat sonder sien geleentheid moet kry om te glo en die lewe in sy Naam kan hê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *