Dat alles oor my vervul moet word

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Derde Week van Pase Jaar B: Vrydag 19 April 2024

LUKAS 24:36B-48

Die Lukas-evangelie vertel die verhaal oor Jesus se laaste tyd op aarde, nadat Hy uit die dood opgewek is, ietwat anders as Johannes 20. In Lukas verskyn Jesus aan sy dissipels terwyl hulle praat oor die mededeling van twee persone aan wie Jesus op pad na Emmaus verskyn het (Luk 24:13-35). Lukas wil verseker die dissipels weet Jesus is werklik uit die dood opgewek. Hy lewe! Dit is nie ’n gees wat aan die dissipels verskyn het na Paassondag nie (vers 37).

Jesus doen moeite om die dissipels te oortuig Hy is in die vlees by hulle. Hy merk hul twyfel en ontsteltenis. Dit is sy aanknopingspunt om hulle te troos én te verseker die opgestane Here is by hulle. Jesus nooi die dissipels om hulself te vergewis Hý is die Een wat gely en gesterf het aan die kruis. ‘Kyk’ (sien sintuig) na my hande en my voete. ‘Vat’ (tas sintuig) aan My. Die 2020-vertaling herhaal die woord “kyk” saam met die woord “sien” (vers 39). In vers 40 ‘wys’ Jesus sy hande en voete vir sy dissipels. Jesus wil die moontlikheid uitsluit dat die dissipels mag dink Hy is nie in vleeslike gestalte by hulle nie en sê: “’n gees het tog nie vlees en bene soos julle sien Ek het het nie.” (vers 39).

Lukas skryf die dissipels was verheug oor Jesus se verskyning. Hulle was so verbaas, hulle kon nie hul sintuie vertrou nie. Hulle kon nie glo nie (vers 41). In ’n tweede ronde vra Jesus hulle iets te ete. Hy het die aangebode stuk geroosterde vis voor hulle oë (sintuie) geëet. Die eet-handeling roep ’n ryk tema in Lukas se vertelling op; Jesus se gemeenskaplike maaltye met mense vir wie Hy roep tot navolging en vir wie Hy lief het. Die vis self, was ’n vroeë simbool vir dissipelskap. Dit dui op ware gemeenskap met die opgestane Here wat alle gelowiges deel. In die boek Handelinge kom die dissipels as geloofsgemeenskap saam om ‘brood te breek’ in die Naam van die opgestane Here. Met die eet-handeling bewys Jesus Hy leef, én Hy wys vooruit na die gemeenskap wat deur die opstandingsgeloof in sy Naam saam aan tafel sal sit.

In ’n derde ronde herinner Jesus die dissipels aan sy woorde toe Hy nog saam met hulle was. Dat Hy die woorde ken is sekerlik ’n aanduiding van wie Hy is. Die dieper betekenis is egter dat Jesus die punt beklemtoon dat in sy opstanding dit wat in die Wet van Moses, die Profete en die Psalms geskryf is, vervul moet word. Om die vervulde boodskap van die Skrifte te verstaan vra die Here se bemiddeling. Jesus het die dissipels se verstand geopen om die Skrifte te verstaan (vers 45). Wat ek en jy vandag tot ons beskikking het is die verhaal van die Skrifte oor Jesus se opstanding uit die dood, asook die beloftes wat daarin vervat is.

Ons opdrag is om in Jesus se Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies te verkondig. Vir sy groepie dissipels het Jesus opdrag gegee om in die stad te bly tot hulle met krag uit die hoogte toegerus word (vers 49). Hulle moet in Jerusalem begin en getuies wees van die dinge wat Hy aan hulle geopebaar het (vers 48). Die boek Handelinge vertel hoe Jesus se volgelinge hierdie opdrag begin uitvoer het deur die krag van die Heilige Gees.

Nou is dit ons voorreg om deur die Heilige Gees Jesus se opdrag te vervul, om getuies te wees van die dinge wat Hy geopenbaar het, oral waarheen die Here ons stuur.