GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 22 APRIL 2024
RCL JAAR B – VIERDE WEEK VAN PASE
(Gebed na aanleiding van Psalm 23 – na Goeie Herdersondag)
Here, wat my laat rus –
U laat my veilig voel in ’n wêreld
wat dreig met vernietiging en ontwrigting.
U is my/ons rusplek in onstuimige toestande.
In die vierde week van Pase, Here –
word ons herinner aan Jesus se opstanding uit die dood,
en verseker van oorvloedige lewe sonder gebrek,
Die herder-beeld is u skets van veiligheid in Christus.
Wonderlik is die paaie, Here my Herder –
waarop U u kinders lei; regte paaie met lewenskrag.
En dit is ter wille van u Naam; u eer en integriteit.
Ek/ons hou vas aan u stok en staf wat gerusstel.
Here my Herder, ek voel veilig by U.
U is ook vir my/vir ons ’n gasheer wat onthaal, Here.
Dankie vir tye van aanbidding in u teenwoordigheid,
waar die eer van u Naam ons diep begeerte is.
Ja, dit is U wat die feesgereg voorberei en bedien.
Here wat my tafel dek, ek wil U aanbid en dien.
Wonderlik die gewaarwording, Here ons Gasheer –
dit is nie ek alleen en my groepie gunstelinge,
wat as gaste by u tafel aansit nie.
U guns omsluit ook my/ons teenstanders.
Laat ons U saam aanbid, Herder en Gasheer.
Dankie God van die opgestane Christus –
vir gawes van beskerming en aanbidding.
Dankie dat ek/ons geen skaduagtige kloof,
of gewaande teenstander hoef te vrees nie.
In u teenwoordigheid is goedheid en troue liefde, Here.
Dit is ons nuwe lewenskrag en opstandingsvreugde.
U het dit op Goeie Herdersondag herbevestig.
Ek begeer ’n lewe van aanbidding waar U vertoef.
My beker loop oor. Ek ly nie gebrek nie.
Amen