Jesus is die goeie herder

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vierde Week van Pase Jaar B: Vrydag 25 April 2024

JOHANNES 10:11-18

Op die Kerkjaar kalender is die vierde Sondag van Pase tradisioneel Goeie Herdersondag. Ons is in die week na dié besondere Sondag. Die Revised Common Lectionary kies Johannes 10:11-18 as evangelielesing vir dié Sondag en nooi ons om te reflekteer oor die verband tussen Johannes se herder-beeld en Jesus se opwekking uit die dood. Watter kenmerk(e) van die goeie herder herinner aan Jesus se bediening? Hoe rig dit ons lewe as dissipels?

Ons Skrifdeel begin met Jesus se uitspraak waarin Hy Homself voorstel met die herder-beeld. Jesus verwoord dit met een van sy ‘Ek is’-uitsprake in die Johannes-evangelie: “Ek is die goeie herder” (vers 11). Jesus gaan onmiddellik voort en definieer eienskappe van die goeie herder wat Hy op Homself toepas. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (vers 11), wat aan hom behoort (vers 12), en hy gee vir die skape om (vers 13). Jesus stel sy identiteit teenoor die huurarbeider wat nie ’n herder is nie en herhaal sy uitspraak (vers 14): “Ek is die goeie herder.”

Jesus brei uit op sy verhouding met die skape wat aan Hom behoort met die kategorie “ken”. Daar is ’n diep wederkerigheid tussen Jesus en die skape wat aan Hom behoort. Jesus ‘ken’ sy eie en sy eie ‘ken’ Hom (vers 14). Die kategorie “ken” het nog ’n dimensie. Jesus druk dit uit met ’n vergelyking en beskryf sy verhouding met sy eie (skape) na aanleiding van sy verhouding met die Vader (vers 15). Jesus ‘ken’ sy eie en omgekeerd, net soos die Vader Hom ‘ken’ en omgekeerd. Jesus herhaal sy uitspraak van vers 11: “Ek lê my lewe vir die skape af.” Die goeie herder het ’n intieme verhouding met die Vader én opofferende liefde vir sy skape.

In vers 16 kondig Jesus ’n onverwagse verhouding aan. Hy noem ‘sy ander skape’ wat nie deel is van hierdie kraal nie, maar wel deel is van Hom. Op grond van die verhouding met Jesus, is daar dus net een kudde wat saam aan die een herder behoort. Jesus stel dat Hy ook hierdie ander skape moet lei en dat hulle na sy stem sal luister. Daarmee roep Jesus die elemente van die herder-kudde verhouding op wat Hy in vers 3 genoem het, naamlik: (i) “luister na sy stem”; (ii) “roep sy eie skape op hulle naam” en; (iii) “lei hulle uit”. Die onderlinge verbondenheid van die skape wat aan die goeie herder behoort is gegee met hul verhouding tot die herder.

In vers 17 verskuif Jesus die fokus weg van die herder-kudde beeld. Nou is die klem op die verhouding tussen Jesus en die Vader. Jesus verduidelik die Vader se liefde vir Hom in terme van wat Jesus doen. Soos die goeie herder doen vir sy skape, lê Jesus sy lewe af. Jesus beklemtoon dat die aflegging van sy lewe nodig is sodat Hy dit weer kan opneem. Hy stel dit ook onomwonde dat die keuse om sy lewe af te lê ’n vrye wilsbesluit is. Jesus doen dit omdat Hy sy eie (kudde, skape) lief het en vir hulle omgee. Hy het die volmag om hierdie wilsbesluit uit te oefen as ’n opdrag van die Vader ontvang (vers 18).

Die vraag wat ons Skrifdeel by ons as dissipels van Jesus laat, is of ons Hom herken as die Vader se gevolgmagtigde en of ons bereid is om saam met Jesus se ander skape te reageer op sy roepstem.