Lof aan God tot by die uithoeke van die aarde

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 29 APRIL 2024
RCL JAAR B – VYFDE WEEK VAN PASE

(Gebed na aanleiding van Psalm 22:22-31)

God wat die lyding van magteloses nie minag of misken nie –
die herinneringe aan Pase wek ’n stuwing van dankbaarheid,
diep in my binneste oor Jesus se lewegewende impak.

As ek Jesus se wonder opstanding bepeins, Here –
tas ek rond vir honderd manière om u lof te besing.
Ek wil u Naam verkondig aan my broers en susters,
waar ons as geloofsgenote U saam aanbid.

Want ons is dankbaar, God van almal.

Ons soek na taal om U te dank, Here –
en struikel oor die geskenk van ’n ou geloofsgenoot.
Psalm 22 bied aan ons ryk taal,
om ons dankbare lof aan U te betuig.

Loof Hom! Vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!

Here, die geloofwaardige dankbetuiging van die psalmis,
vibreer van egtheid in die toonaard van die taalgebruik;
dit beweeg vanaf lament en die ervaring dat U afwesig is,
na dankbaarheid, as U die bidder se gesmeek hoor.

U, Here, is die rede vir my lofprysing in ’n groot byeenkoms.

Nou bid ons die woorde van dié psalm, Here ons God –
soos Jesus aan die kruis die woorde van vers 2 tot U uitroep.
In Jesus se lydensgeskiedenis gee dié psalm ses keer taal,
om u verlossingsverhaal aan mense te vertel.

U het u gesig nie vir die bidder verberg nie, God van almal.

Here, die psalmis laat ons u visie vir die wêreld sien.
Hy roep almal tot aan die uithoeke van die aarde,
om hulle tot U te bekeer, ingesluit die verdruktes.
Loof God met dankbare harte, almal wat God raadpleeg!

Ons opstandingsvieringe het ons opnuut herinner, Here –
U sluit almal in; al die familiegroepe van die nasies,
almal wat oordadig leef, alle sterflinge.
Ja, buig in aanbidding, kniel voor God!

Here, aan U behoort die koningskap en die heerskappy.

Amen