TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vyfde Week van Pase Jaar B: Vrydag 3 Mei 2024
JOHANNES 15:1-8
Vir ons oordenking oor dissipelskap in die vyfde week van Pase, lei die Revised Common Lectionary ons na Johannes 15:1-8 as evangelielesing vir dié week. Die tweeledige vraag vir oorweging na aanleiding van dié Skrifdeel is hoe volgelinge van Jesus (sy dissipels) geloofsvrug kan dra en waarom dit nodig is om vrug te dra. Jesus gebruik die metafoor (beeld) van die druiwestok-loot-landbouer, om sy dissipels in sy afskeidsboodskap voor sy gevangeneming en kruisiging te onderrig oor sy antwoord op dié tweeledige vraag.
Chrisus volgelinge deel dikwels met mekaar in eerlike gesprekke hul stryd om geloofsgetrou te handel in alledaagse dinge. Ons sukkel om ons humeur te beteuel. Ons betrap onsself dat ons kortaf reageer op mense se toenadering en maak ander seer. By die werksplek wens ons dikwels ons kon met groter begrip en erkenning teenoor ’n kollega optree. Meer selfbeheer sou soveel voordeel vir ons verhoudinge hê. Ons kan die lysie lank maak. Gelowiges neem voortdurend die wilsbesluit om anders op te tree; meer soos Jesus te wees.
Eintlik is die oplossing heel eenvoudig, sê Jesus. Wees bewus darvaan en erken jy kan nie op jou eie Jesus navolg nie. Jesus herinner sy dissipels aan die deurslaggewende verhouding: “Bly in My, soos Ek in julle.” (vers 4) Dit is die voorwaarde vir ’n geloofsgetroue en -onderskeidende lewe. Dit is onmoontlik om ’n wilsbesluit oor daaglikse uitdagings uit te voer as jy van Jesus los staan. Volgens Jesus se beeld: “Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (vers 4)
Die begin- en eindpunt is dit: “Bly in Jesus!” Hierdie opdrag is weer nie iets wat ek moet doen in die sin dat ek die sleutel vir die verhouding in en met Jesus hou nie. Nee, ons moet weet wie ons reeds in Christus is en daardie wete omhels. Jesus sê vir sy dissipels wat die stand van sake is: “Ek is die druiwestok, julle die lote…. Want sonder My kan julle niks doen nie.” (Vers 5) Dissipelskap floreer deur die dankbare aanvaarding van die gawe van hierdie wonderlike intieme verhouding in Christus én erkenning van my totale afhanklikheid van die Here.
Aanvaarding van die gawe van my Jesus-identiteit en erkenning ek kan sonder Hom niks doen nie, is die grondslag vir ’n lewe van oorwinning in die daaglikse stryd met my menslike natuur. God is besig om ons te vorm sodat ons kan wees wat ons reeds in Christus is. Volgens Jesus se beeld sny die landbouer (Vader) die lote weg wat nie vrug dra nie, maar elkeen wat vrug dra, snoei hy skoon om meer vrug te dra. (vers 2) Dat jy worstel oor hoe jy daaglikse uitdagings hanteer, is deel van die vormingsproses. Vers 3 herinner jou aan wat jy van Jesus ontvang het: “Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”
As dissipels het ons Jesus se woorde wat ons herinner aan wie ons reeds is en die versekering dat die Vader steeds met ons besig is. Waarom moet ons dan vrug dra? Jesus sê: “Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle vrug dra en my dissipels kan wees.” Dissipels van Jesus, leef met die doel om God die Vader te verheerlik!