Juig voor die Koning, die Here

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 6 MEI 2024
RCL JAAR B – SESDE WEEK VAN PASE

(Gebed na aanleiding van Psalm 98)

Here, U is die Koning vir wie ons ’n nuwe lied wil sing.
U het wonders gedoen en u verlossing bekend gemaak.
Voor die oë van nasies is u geregtigheid geopenbaar.
Die uithoeke van die aarde het u verlossing gesien.

Juig tot eer van die Here, o ganse aarde!

Here, ontvang ons nuwe lied aan die einde van Pase.
U het ons weer aan u troue liefde herinner;
ons laat sien hoe u verlossing in Christus ontplooi.
U getrouheid kring uit en sluit volke in, met billikheid.

Laat die see en alles daarin God se troue liefde uit basuin!

Getroue God van die huis van Israel –
U het ons in Pase opnuut u verlossing laat sien.
Die herinnering aan Jesus se opstanding uit die dood,
het u liefdesverklaring vir die uithoeke van die aarde openbaar.

Ons lied van lof aan God, omsluit als wat kan jubel.

Here vir wie die riviere hande klap –
die psalmis laat ons ook die toekoms verreken.
Die bidder getuig dat U kom om die wêreld te oordeel.
U verlossing in geregtigheid het ’n toekoms perspektief.

U heilige arm sal die wêreld bystaan. Loof die Here wat verlos.

Here, die Kerkjaar neem ons saam die toekoms in.
In dié week onthou ons Jesus se hemelvaart,
en berei ons voor vir die viering van Pinksterfees –
die gawe van u Gees in Jesus se afwesigheid.

Ons juig voor die Koning aan u regterhand – Jesus, die Here.

U het u verlossing bekend gemaak, Here.
Ons het die verlossing deur ons God gesien.
Jesus is Koning!

Amen