TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sesde Week van Pase Jaar B: Vrydag 10 Mei 2024
JOHANNES 15:9-17
Die sesde week van Pase verteenwoordig ’n gebeurtenisvolle periode op die Kerkjaar kalender. In die voorlaaste week van die Paasseisoen se vyftig dae, is drie gebeurtenisse in God se verlossingsplan in die visier. Die seisoen het begin met die viering van Jesus se opstanding uit die dood op Paassondag. Vir veertig dae het Christene nagedink oor die betekenis van Jesus se opstanding. In dié week vier Christene Jesus se Hemelvaart. Die volgende 10 dae (tot einde Pase), wag Christene op die belofte van die Heilige Gees wat met Pinkster gevier word. ’n Tydperk van belofte, wag en vervulling.
Ons peins dié week doelbewus oor Johannes 15:9-17 vanuit die perspektief van Jesus se Hemelvaart. In die verhaal opbou van die Johannes-evangelie vorm dié verse deel van Jesus se afskeidsgesprekke (Joh 13-17). Dit behels Jesus se laaste onderrig aan sy binnekring dissipels voor sy gevangeneming en sterwe aan die kruis. Met die bril van Hemelvaart op, gryp ons dus vooruit en volg nie die volle verloop van Johannes se vertelling nie. As afskeidsgesprek (voorbereiding vir weggaan) is dit egter as tema gepas vir besinning by Hemelvaart.
Die tema van vers 9-17 sluit aan by die voorafgaande gedeelte; die beeld van die wingerd-loot-landbouer (vers 1-8). Die aansluiting by die wingerd-beeld vind ons in verse 9-10 en 16. In vers 9-10 gebruik Jesus die uitdrukking, “Bly in My” (vgl. ook vers 4-7), en in vers 16 beklemtoon Jesus die gedagte van “vrug dra” (vgl. ook verse 2, 4, 5, 8). In ons Skrifdeel bring Jesus die kategorie van liefde ter sprake, met die oproep: “Bly in my liefde”. Jesus gaan verder en beskryf die liefde “vir mekaar” as die primêre vrug van hulle (ons) verhouding met Hom.
In Jesus se laaste onderrig aan sy dissipels oor navolging van Jesus (in sy liefde bly), herinner Hy hulle aan hulle verhouding met God, die Vader. Sy liefde vir Jesus, is soos Jesus se liefde vir sy dissipels. Jesus se oproep om in sy liefde te bly, herinner hulle aan die fondament waarop hulle bou, naamlik God se liefde vir hulle. Die dissipels se onderhouding van Jesus se gebooie is die spieëlbeeld van Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader se opdragte. Die dissipels se onderhouding (gehoorsaamheid) van Jesus se gebooie is die versekering dat hulle in Jesus se liefde bly.
In vers 12 beskryf Jesus die inhoud van sy gebod. Die dissipels moet mekaar liefhê. Hulle konkrete voorbeeld is Jesus se liefde vir hulle (ons): “Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.” Die aard van sy liefde vir hulle word nog duideliker deur Jesus se beeld van ’n vriend, met klem op die element van opoffering wat ware vriendskap kenmerk. Hy stel in ’n vergelyking dat sy liefde vir sy dissipels groter opoffering inhou as wat enige vriend kan verwag of bied. Jesus wys vooruit op sy offer tot in die dood, vir sy dissipels (sy vriende): “Groter liefde as dit het niemand nie…”
Jesus bring vervolgens sy oproep tot gehoorsaamheid aan sy gebooie en sy klem op die opofferende karakter van vriendskap bymekaar: “Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” So is vriendskap met Jesus gelyk daaraan om in Jesus te bly. Vriende van Jesus (sy dissipels) is nie meer slawe nie, omdat hulle weet wat die Vader doen. Jesus het immers alles wat Hy van die Vader gehoor het aan sy dissipels (vriende) bekend gemaak.
Jesus se dissipels het gesien hoe die groter liefde lyk. Nou het Hy hulle (ons) uitgekies en aangestel om die gebod van die groter, opofferende liefde uit te leef in die wêreld. Die vrug van die Vader se liefde vir ons as Jesus se dissipels, moet blywend sigbaar wees in ons onderlinge liefde vir mekaar: “Julle moet mekaar liefhê.”