Ek wil die Here se woord herkou

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 13 MEI 2024
RCL JAAR B – SEWENDE WEEK VAN PASE

(Gebed na aanleiding van Psalm 1)

Here, wys my die pad van regverdiges.
Wys my die weg waarvoor U sorg dra;
die pad waarlangs die geseënde mens,
vreugde vind.

Die psalmis het u wysheid ontvang, Here –
en deel sy/haar geloofskennis met hulle,
wat Jesus se opstandingsboodskap
gehoor én geglo het.

Here, in die week voor Pinsterfees –
herinner die psalmis u Opstandingsmense
aan alles wat Jesus ons van U kom leer het;
regverdiges, vir wie die Heilige Gees lei.

Dankie, Here, vir grense wat U trek.
U voorsien u lewensbeleid vir regverdiges;
waarsku teen die weg waarop sondaars gaan,
verwerp die raad van goddeloses en omgang met spotters.

Gelukkig is dié mens wat u geloofspad volg.

Ons dank U, Here, Bron van geluksaligheid.
U maak dit vir hulle wat na U dors moontlik
om hul geloofswortels diep te laat drink,
vir tydige vrugte met tydlose effek.

Gelukkig is dié mens wat in God geplant is.

Here, U skep vir regverdiges geleentheid,
om uit u diep bron van oorvloed te drink.
U gee aan ons die woorde wat lewe wek;
om U te ken en in die regspraak op te staan.

Gelukkig is dié mens wat God se woorde inneem.

Here, ek vind diep vreugde in u Woord.
Ek wil deurentyd oor u lewensbeleid peins.
Ek wil u Skrif herkou en my daarmee voed.
Mag ek deel in die gemeenskap van regverdiges.

Gelukkig is dié mens wat u wet dag en nag mymerend prewel.

Amen