TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sewende Week van Pase Jaar B: Vrydag 17 Mei 2024
JOHANNES 17:6-26
In die laaste week van Pase, tussen die viering van Hemelvaart en Pinksterfees, lei die Revised Common Lectionary ons om oor Johannes 17 as evangelielesing te peins. Ons Skrifdeel vir oordenking is die laaste deel van Jesus se afskeidsgesprekke (Joh 13-17) voor sy gevangeneming en sterwe aan die kruis. Hier verwoord Johannes Jesus se bekende Hoëpriesterlike gebed vir elkeen wat die Vader aan Jesus gegee het (17:2, 6). Jesus het reeds vir sy dissipels gesê Hy verlaat weer die wêreld (16:28). Hy begin sy gebed tot die Vader met die woorde dat die uur van sy verheerliking aangebreek het (17:1).
Die troosvolle en inspirerende boodskap vir Jesus se volgelinge is dat Hy vir sy dissipels bid. Jesus het die Vader se opdrag en sy taak as Messias op aarde vervul. Hy het God se Naam bekend gemaak aan die mense wat die Vader vir Hom uit die wêreld gegee het. Hulle het God se woord geglo, asook dat die Vader Jesus gestuur het (vers 8). Hulle het die ewige lewe ontvang (vers 2). Jesus bid vir dié gelowiges omdat hulle (ons) aan die Vader behoort (vers 9). Met die oog op die komende Pinksterfees maak Jesus se gebed ons bewus van die ander Trooster wat Hy gestuur het. Die Heiliige Gees sal Jesus se dissipels toerus om as Jesus se gestuurdes in die wêreld te lewe.
In vers 9 noem Jesus pertinent vir wie Hy bid; vir hulle wat aan Hom en daarom ook aan die Vader behoort. Jesus lê klem op die intieme verhouding van die gelowiges met Hom en die Vader. Daar is geen twyfel oor wie Jesus hier aan die Vader opdra nie: “En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne.” (vers 10) Jesus bid vir sy volgelinge wat in die wêreld agterbly wanneer Hy na die Vader toe gaan. Hy vra dat God sy dissipels in die Vader se Naam sal bewaar, en Hy motiveer: “…sodat hulle, net soos Ons, een kan wees.” (vers 11) Jesus herhaal dié woorde as Hy vir ’n tweede kategorie mense bid; dié wat deur die woorde van sy dissipels in Hom sal glo. Dus, volgende geslagte gelowiges. Nou is Jesus se motivering: “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (vers 21)
In vers 22 raak Jesus ’n volgende tema aan. Hy bid oor die heerlikheid wat die Vader Hom gegee het, en Hy op sy beurt weer aan sy volgelinge gegee het. Weer die motivering: “sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Jesus brei uit oor die verbondenheid van Vader, Seun en volgelinge. Hy beklemtoon God se doel daarmee. Dit gaan vir Jesus oor: (i) sy volgelinge se volledige eenheid; (ii) dat die wêreld kan weet God het Jesus gestuur en; (iii) dat die Vader die wêreld liefhet. Jesus vergelyk God se liefde vir die wêteld met die woorde: “net soos U My liefgehad het.” (vers 23) Hy sluit sy gebed af met liefde as tema en motiveer sy voortgaande bekendmaking van die Vader se Naam. Sy wens is dat die liefde waarmee die Vader Jesus liefgehad het, in sy volgelinge sal wees en Jesus in hulle. (vers 26)
Jesus se aangrypende gebed vir sy dissipels voor sy gevangeneming en sterwe, is ’n gawe waarsonder ons – wat vandag in Hom glo deur die woorde van die apostels en profete – nie kan lewe nie. Ons moet dit omhels en in die sekerheid daarvan rus. Ons moet Jesus se begeerte na sy dissipels se volledige eenheid met groot erns nastreef, sodat die wêreld kan weet God het sy skepping lief. Die motivering vir ons getuienis as dissipels in die wêreld, lê in die woorde van Jesus se gebed: “Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur.” (vers 18)