GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 20 MEI 2024
RCL JAAR B – WEEK NA PINKSTERFEES
(Gebed na aanleiding van Psalm 104:24-35)
Here, met die asem van Pinksterfees in die lug –
maak die psalmis ons opnuut bewus van u skepping.
Die verwondering op die eerste Pinsterdag oor die
veelheid en veskeidenheid tale wat u mense praat,
laat sien ons weer u talryke werke, daar heel aan die begin.
Die aarde is vol van wat aan U behoort, Here, my God.
Met Pinkster het u Gees lewe in u kerk kom blaas.
Loof die Here, o, my siel!
Skepper God, die kleurvolle diversiteit van u talryke werke –
stimuleer speelse opwinding én ontsagwekkende verwondering.
Diep in die gees van u feesvierende Pinkster gemeenskap,
is ons bewus van u handewerk en skeppende wysheid.
Ons glimlag oor U geestige omgang met wat U gemaak het.
Die aarde is vol van wat aan U behoort, Here, my God.
Pinkster laat ons die herskeppende wind van die Gees onthou.
Loof die Here, o, my siel!
God van Pinkster, U gee die aarde ’n nuwe voorkoms.
Geesvervulde mense begeer u ewigdurende majesteit.
Verheug U in u werke, Here, as U na die aarde kyk.
Dan het ons hoop om versadig te word uit u hand,
en kan ons na U opkyk vir elke dag se kos.
Die aarde is vol van wat aan U behoort, Here, my God.
Ons het Pinkster gevier en u lewensasem ontvang.
Loof die Here, o, my siel!
Skepper-God van Pinkster –
die asem van u Gees wek ’n nuwe verlange in my.
Ek wil oor u talryke werke peins.
My asem wil u majesteit besing.
Sondaars en goddeloses wil ek vermy.
Die aarde is vol van wat aan U behoort, Here, my God.
U het u talryke werke met wysheid gemaak.
Loof die Here, o, my siel!
Amen