Die Gees van die waarheid sal van Jesus getuig

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Die week na Pinksterfees – Jaar B: Vrydag 24 Mei 2024

JOHANNES 15:26-27 en 16:4-15

In die week na Pinksterfees laat die Revised Common Lectionary ons met Jesus se afskeidsgesprekke (Joh 13-17) verder reflekteer oor Jesus se laaste onderrig aan sy dissipels. In Johannes 15:26-27 en 16:4-15 skryf die Evangelis oor wie die Heilige Gees is. Johannes fokus ook op Jesus se woorde oor die Heilige Gees se taak, nadat Jesus in die hemel opgeneem sal word. In die seisoen van Koninkrykstyd (ná Pase en Pinksterfees) is die dubbele fokus van Jesus se kerk nou op dissipelskap onder leiding van die Heilige Gees, asook op Jesus se heerskappy as Koning aan God se regterhand.

In Johannes 14:16 het Jesus aan sy dissipels beloof Hy sal die Vader vra om aan hulle ’n ander Parakleet te gee, sodat Hy vir ewig by hulle kan wees. In Johannes 15:26-27 neem Jesus die beloftewoord verder as Hy in dieselfde terme met hulle oor die koms van die Heilige Gees praat. Jesus gebruik weer die benamings ‘Parakleet’ en ‘Gees van die waarheid’ met verwysing na die Heilige Gees (vgl. 14:17). Jesus verduidelik dat Hy die Parakleet van die Vader af aan hulle sal stuur en dat die Gees van die Vader af sal uitgaan; al drie persone van die Triniteit is dus betrokke.

Jesus noem vervolgens wat die Parakleet se taak sal wees. Die Gees sal oor Jesus getuig. Die verrassing is dat Jesus die dissipels se toekomstige taak in verhouding met Jesus in dieselfde terme as dié van die Parakleet beskryf, naamlik ‘om te getuig’. Die 2020-vertaling formuleer dié taak as ’n opdrag: “En julle moet ook…” en; ’n motivering: “omdat julle van die begin af by My is.” Die taak van die Heilige Gees en opdrag aan die dissipels is dieselfde; om van Jesus te getuig, na sy opname in die hemel. Die getuienis wat hier ter sprake is, is die waarheid aangaande Jesus, wat die dissipels self beleef het.

In Johannes 16:7 verduidelik Jesus waarom Hy sy dissipels verlaat en waarom God besluit het om die Parakleet te stuur. Jesus beskryf sy weggaan as voordelig vir die dissipels se voortgaande lewe op aarde in sy afwesigheid. Die Parakleet kan eers na hulle toe kom nadat Jesus na die Vader gegaan het. Die taak van die Parakleet is tweeledig. In verhouding tot die wêreld (in die Johannes-evangelie is die wêreld almal wat nie in Jesus glo as Seun van God nie) is sy taak dié van ‘oortuiging’. Die Parakleet sal die wêreld van drie dinge oortuig: Van sonde (hulle glo nie in Jesus Christus nie); van geregtigheid (die opgestane en verheerlikte Jesus is by die Vader) en; van oordeel (die heerser van die wêreld is reeds geoordeel). (vers 8-11)

In Johannes 16:13-15 beskryf Jesus tweedens die taak van die Parakleet in verhouding tot sy dissipels. Jesus gebruik weer die benaming ‘Gees van die waarheid’ vir die Parakleet (vers 13). Die klem is op ’n spesifieke aspek van die taak van die Gees, naamlik om die dissipels ‘te lei’. Die leiding word omskryf as “die volle waarheid” oor Jesus as die Messias van God. Die inhoud van die waarheid waarin die Gees leiding sal gee, is mededelings van dit wat Hy gehoor het (van Jesus ontvang het), asook bekendmaking van die toekomstige dinge. Die Heilige Gees vestig die oë en gedagtes van die dissipels op Christus. Hy wys na Jesus en lei die gelowiges op die weg van navolging agter Jesus aan.

Die krag van God is dus werksaam wanneer die Gees in die lewens van gelowiges beweeg, sodat hulle oor die persoon en werk van Christus kan getuig. Dissipels is agente (uitvoerders en draers) van die effektiewe krag van die Heilige Gees. Ons verantwoordelikheid berus op die krag van die Gees in ons. Die eintlike werk van die Christen se getuienis berus op die leiding van die Heilige Gees. Die Gees lei gelowiges om oor die waarheid aangaande Christus te getuig.