Waar die Here troon as koning gee Hy krag en vrede

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 27 MEI 2024
RCL JAAR B – EERSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 29)

Gee eer aan die Here, buig in aanbidding voor God!
Daartoe spoor die psalmis sy geloofsgenote destyds aan.
’n Oproep en aansporing ewe toepaslik vir ons tyd, Here.
U heerlikheid en krag laat ons met ’n loflied in die hart.
U glansryke heiligheid laat ons aanbiddend voor U buig.

Ons bring eer vir die heerlikheid van u Naam, Here.

Here, in Koninkrykstyd van die Liturgiese Jaar –
in die week na Triniteitsondag,
verlang u kinders na u magtige teenwoordigheid.
Ons wil as dissipels leef onder leiding van u Gees.
Ons wil opreg voor u koninklike heerskappy buig.

Ja, ons bely: Die Here troon as koning vir ewig.

Saam met die kerk van Christus –
bring ons eer aan Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons is opnuut bewus van u skeppingsmag, Here;
diep dankbaar oor Christus se verlossingswerk;
geïnspireer deur die uitstorting van u Gees.

Ons hoor u stem, Here: “Heerlikheid!”

As dissipels van Christus op u Troon –
met krag van die Gees wat van U af uitgaan,
betree ons die toekoms met vertroue.
U gee krag aan u volk.
U seën u volk met vrede.

Die stem van die Here is kragtig.
Ja, gee eer aan die Here, Koninkryksmense!

Amen