Sodat die wêreld deur Hom verlos kan word

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Die week na Triniteitsondag – Jaar B: Vrydag 31 Mei 2024

JOHANNES 3:1-17

In die week na Triniteitsondag (Drie-eenheid Sondag), met die aanbreek van Koninkrykstyd in die Kerkjaar, neem die Revised Common Lectionary ons terug na die begin van Jesus se bediening, soos die Johannesevangelie daaroor getuig. Johannes 3:1-17 verhaal ’n ontmoeting tussen Jesus en ’n Fariseër, Nikodemus. Dié leier van die Jode, ’n leermeester van Israel, het die tekens gesien wat Jesus doen. Sy gevolgtrekking is dat Jesus ’n besondere leermeester is wat van God gekom het.

Die gesprek tussen Jesus en Nikodemus vertoon ’n tipiese Johannese tegniek, naamlik misverstand deur ’n verkeerde interpretasie van Jesus se tekens en uitsprake. Dit bied geleentheid vir Jesus om sy boodskap korrigerend oor te dra. In ons Skrifdeel maak Jesus twee stellings waarop Nikodemus telkens met ’n vraag reageer: “Hoe kan ’n mens…?” (vers 4) en: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” (Vers 9) Jesus reageer op sy beurt op Nikodemus se onkunde en vra hoe Nikodemus as leermeester van Israel nie dié dinge begryp nie. Jesus vervolg uitvoerig oor “aardse dinge” en “hemelse dinge” (vers 12), asook oor God se reddende liefde in die sending van sy Seun na die wêreld (vers 13-17 [21]).

Nikodemus se misverstand ontstaan deur die Griekse woord anōthen (2020-vertaling, “van bo”) (vers 3). Die Griekse woord is dubbelsinnig en kan “weer” of “van bo af” beteken. In Nikodemus se eerste reaksie (vers 4) is dit duidelik dat Nikodemus nie Jesus se bedoeling verstaan het nie. In vers 5-8 probeer Jesus Nikodemus se onbegrip opklaar. Nikodemus verstaan egter ook nie dié dinge waarvan Jesus praat nie. Sy tweede vraag (vers 9) wys dat hy nie die Goddelike reiniging deur die Messias verstaan nie, soos verwoord in: “uit water en Gees gebore word” (vers 5). Hy begryp ook nie die verwysing na God se vrye skeppingsmag in die uitdrukking oor wind en Gees nie (vers 8). Jesus se uitspraak oor geboorte uit vlees en Gees (vers 6), klaar ook nie Nikodemus se verwarring op nie.

Soos vir Nikodemus, is Jesus se woorde in vers 6 ook vir ons as sy dissipels belangrik: “Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word nie’.” Nikodemus word op elke punt gekonfronteer met dubbelsinnige beelde, tekens en metafore wat die menslike en goddelike werklikheid teenoor mekaar stel. Nikodemus het wel een aspek van die kennis oor wie Jesus is korrek afgelei, uit die tekens wat Jesus verrig het. Hy (“ons”, vers 2) weet dat Jesus van God gekom het. Die voordeel wat ons vandag het, is dat die Johannesevangelie ons betrek by die ontmoeting tussen Jesus en Nikodemus. Hierin onderrig Jesus ons nou oor ’n verskeidenheid temas.

Eers verklaar Jesus die noodsaaklikheid van ’n God-geinspireerde geestelike geboorte. Nikodemus verstaan “weer” (natuurlike geboorte) in plaas van “van bo af” (geestelike geboorte). Tweedens brei Jesus uit op dié tema en leer dat dié geestelike geboorte die voorwaarde is vir toegang in die koninkryk van God. Sonder die Gees kan ons nie met God ’n verhouding hê nie. Derdens verklaar Jesus sy rol in God se verlossingsplan vir die wêreld. God het sy Seun gestuur of gegee. Hy is die enigste maatstaf vir verlossing. “God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” Nikodemus het nog nie kennis gehad van die tweede deel van wie Jesus is en wat die tekens wat Hy verrig het beteken nie.

Maar ons weet nou: Jesus het van God af gekom sodat die wêreld deur Hom verlos kan word!