Jubel tot eer van God op ons feesdag

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 3 JUNIE 2024
RCL JAAR B – TWEEDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 81:1-11)

God, ons krag, God van Jakob, bevryder uit Egipteland.
Die psalmis inspireer sy tydgenote, en vir ons vandag,
om op ons feesdag te jubel en te juig tot u eer.
En ons wil hartlik reageer, Here, ons God –
met musiek begeleiding; tamboeryn, lier en harp.

Here, die psalmis leer sy geloofsgenote om U te eer –
op die feesdag vir Jakob se bevryding uit Egipteland.
Toe het U teen die onderdrukker uitgetrek,
die las van u volk se skouer verwyder,
sy hande vry gemaak van die dramandjie.

Here, ons bely dat U alleen ons God is.
Ons wil geen vreemde of uitlandse gode dien nie.
Net vir U aanbid ons, want U hoor ons geroep uit nood.
U het die woestyngeslag geantwoord uit die donderwolk.
U het die feesdag ingestel en u bevryding dikwels te vier.

Hier is ons nou as nuwe geslag aanbidders, God van Jakob.
Ons inspireer mekaar en ons kinders in Koninkrykstyd;
om U te eer as Here en Koning oor alles.
Ons is dissipels van Christus wat U alleen aanbid.
Ons feesdag, Sondag, Opstandingsdag, onthoudag.

Dankie, Here, vir elke Sondag se nuwe begin.
Dankie dat U ons herinner aan wie U is.
Dankie vir u vaste instelling met ritme van tyd,
om as Christus volgelinge u bevryding te vier.
Elke Sondag vier ons fees: Christus het opgestaan!

Jubel tot eer van God, ons krag,
juig tot eer van die God van Jakob.
Begin die begeleiding vir ons fees.
God het ons uitgered uit sondenood.
Hy het geantwoord uit die leë graf.

Amen