Om God se wet te onthou

(Gebed na aanleiding van Psalm 19:8-15 en Eksodus 20)

Here, my Rots en my Verlosser –
die verloop van ons Lydenstyd herinneringsreis,
wek ’n diep innerlike verlange om te onthou,
wat u wil vir u kinders is – ook vir my.

In Eksodus 20 praat U met Israel as die Here jou God.
Nadat U Israel uit die slawerny van Egipte uitgelei het,
gee U aan hulle woorde (wet) vir die pad saam met U;
riglyne, voorskrifte, opdragte, beslissings.

So is hul gesag vir U rein en standhoudend.

In Lydenstyd onthou ons Israel se woestynreis, Here.
Ons onthou ook Jesus se veertig dae in die woestyn.
Daar is Jesus deur Satan versoek, maar –
Hy het Satan herinner aan u wil vir die lewe.

Here, my Rots en my Verlosser –
in Lydensryd kyk ons terug op u pad met ons elkeen.
Ons sien u teenwoordigheid by ons op dié lewensreis,
ook in wat die psalmis getuig oor u wet en u wil vir ons lewe.

Dankie dat U ons help onthou, Here –
eerstens die wese van u wet en u bepalings.
Dit is volmaak en betroubaar.
Dit bevat lewenskrag en gee wysheid.

Here, ons maak op u wet en bepalings staat!

As ons peins oor u opdragte en u gebooie, God van Israel –
tref die suiwerheid daarvan ons opnuut;
ons oë sien helderder en ons harte verbly.
Ons het ontsag vir U, Here.

Bly by ons, Here. Maak ons gewillig om u wet altyd te onthou.
Ons verlang opreg, ons Rots en ons Verlosser –
dat die woorde van ons mond en hart se bepeinsinge,
in Lydenstyd vir U aanvaarbaar sal wees.

Amen