Tweede Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 1 Maart 2024
Na ons besinning oor Jesus se versoeking deur Satan in die woestyn (Mark 1:12-13) verlede week, neem die Revised Common Lectionary ons in Markus 8:31 na Jesus se eerste lydensaankondiging. Die tema van lyding wat as ’n inherente kenmerk van Jesus se bediening op aarde in Markus 1 in vooruitsig gestel is, word nou eksplisiet deur Jesus aan sy dissipels gestel: “Die Seun van die mens moet baie ly…” Hy sal verwerp en doodgemaak word, en na drie dae uit die dood opstaan.
Dié lering deur Jesus was nie vir Petrus in lyn met wat hy van sy Messias verwag het nie. Petrus berispe Jesus oor dié gedagtes. Jesus reageer op sy beurt en sê vir Petrus hy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense. Hierdie perspektief daag ons as eietydse dissipels in Lydenstyd uit om te besin oor die dinge van God. Wat is jou verwagting van Jesus? Peins oor jou verstaan van Jesus se lyding en hoe dit neerslag vind in jou lewe voor die aangesig van God in die wêreld.
In vers 34 praat Jesus met sy dissipels en die skare oor die pad van verwerping, sterwe en opstanding wat Hy hier vir die eerste keer aankondig. Jesus korrigeer klaarblyklik Petrus en die skare se verstaan van dissipelskap. Hy gee ’n uiteensetting van kenmerkende aspekte van dissipelskap wat getrou is (sal wees) aan Jesus se eie ervaring en voorbeeld. Jesus noem as voorwaardes vir geloofsgetroue dissipelskap die aspekte van self-verloëning, kruisopname en navolging van Jesus.
Jesus gaan voort om die genoemde voorwaardes vir dissipelskap nader te omskryf binne die konteks van lewe, asook die verband met Jesus en die evangelie. Jesus beklemtoon die noue samehang van lewe (redding) en ’n keuse vir Jesus en die evangelie. Om jou self te verloën beteken afstand doen van die houding dat ek my eie redding kan bemiddel (heil kan uitwerk). Om vertroue op jouself prys te gee (verloën) veronderstel afhanklikheid van God en vertroue op Jesus alleen vir redding (lewe). Navolging van Jesus vra ’n radikale keuse vir en ’n diepliggende vertroue in Jesus.
Die lewe is vir ons almal belangrik. Dit het vir ons waarde. Ons gee daaraan prioriteit. Daarom vra Jesus twee vrae in verse 36 en 37 oor wat ons bereid is om op te offer ten einde die lewe te verkry. Die losprys vir die lewe (vers 37) is jou keuse vir Jesus wat deur sy verwerping, dood en opstanding die ware betekenis en waarde van lewe verseker. Jesus is die lewe! Volg Hom na.
In vers 38 dui Jesus dan aan dat die keuse vir Jesus en navolging op sy lydenspad beteken dat sy dissipels gestuur word na hierdie owerspelige en sondige geslag met die boodskap dat Jesus red en dat sy woorde die weg na die lewe aandui. Navolging van Jesus vra openhartige en skaamtelose verkondiging dat Jesus alleen die Here is. Daar is geen ander evangelie van lewe nie. Jesus beklemtoon die erns hiervan. Hy waarsku dat Hy ook skaam sal wees voor sy Vader vir diegene wat vir Hom skaam is voor die mense in hierdie wêreld.
Lydenstyd herinner ons aan die weg na die lewe deur die kruis heen. As dissipels word ons geroep om Jesus skaamteloos op die kruispad na te volg. Dit is die keuse vir lewe.