Hubert Loubser van Paarl PAK besoek elke tweede Maandagoggend Fabrinox Ingenieurswerke in die Paarl om ‘n boodskap oor te dra.
Hierdie byeenkomste word deur ‘n gemiddeld van 60 persone op die fabrieksvloer bygewoon. Hubert het die taak in 2023 oorgeneem van Oom Ben de Goede wat dit sedert 1995 by Fabrinox aangebied het.
Vir die eerste byeenkoms van 2024 het Hubert ‘n boodskap oorgedra dat die ou jaar en verlede agtergelaat moet word, en dat ou bagasie afgeskud moet word.
Op die foto dra Hubert ‘n jas, selfs in die hitte van 40°C in die Paarl – dit was die eerste bagasie wat afgelê is. Die reistasse dui ook op vorige jare wat agtergelaat moet word. Die boodskap is baie goed ontvang.
Hubert sê dat dit heerlik is om soveel van die werkers vroeg in die oggend te sien wanneer hulle vrywillig die biduur bywoon. Dit motiveer hom om altyd goed voor te berei en uit te sien na die 10-minute wat aan hom toegewys is.