God gee gehoor

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 26 FEBRUARIE 2024
RCL JAAR B – TWEEDE WEEK VAN LYDENSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 22:23-31

U het die bidder se hulp gesmeek gehoor, Here (vers 25);
daaraan aandag gegee.

Here, heerlik breek die lig deur vir dié smekende bidder.
Vanuit lyding ervaar die magtelose gelowige u bevryding;
van swaard, honde, bekke van leeus en horings van buffels.

U, U het geantwoord, Here.
U het u gesig na magteloses gedraai.
U het ook vir my gehoor!

Nou kan ek U loof, Here.
Ek getuig van uitkoms na raadpleging met U.
U, God wat hoor, is die rede dat ek my geloftes wil nakom.

Lydenstyd nooi almal om te onthou –
wat U gedoen het, Here.
U het magteloses se gesmeek
nie geminag of misken nie.

Here wat aandag gee, U het gehoor!
U het geantwoord, God van elke geslag!

Daarom verkondig ek u Naam, Here.
Laat almal hulle tot ons Here bekeer.
Laat ons voor die Here in aanbidding buig.

Aan U Here, behoort die koningskap.

God wat lyding ken, U hoor ons hulpgeroep.

Amen