Lydenstyd met Israel en Jesus in die woestyn

Eerste Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 23 Februarei 2024

MARKUS 1:9-15

In die eerste week van Lydenstyd neem die Revised Common Lectionary ons terug na Markus 1 waarmee ons in Epifanie kennis gemaak het (12 Jan – 1:4-11; 26 Jan – 1:14-20). Op Vrydag 16 Januarie het Markus 9:2-9 ons teen Hermonberg op geneem waar Jesus verheerlik is. Die heen en weer beweging in die gang van Markus se verhaal oor Jesus, neem ons terug na die begin van Jesus se bediening. Die bril van Lydenstyd stel die fokus van dié meditasie op hoe Jesus se bediening reeds aan die begin van sy openbare optrede voorsien is. Met die aanbreek van Lydenstyd herbesoek ons vers 12-13 in die lig van die naderende klimaks (kruisiging en opstanding) van Jesus se bediening.

Die Christelike geloof lewe in ’n andersoortige werklikheid. Beide by Jesus se doop (Mark 1:10) en by sy verheerliking (Mark 9:7) gaan die hemel oop om God se dimensie agter die alledaagse in spel te bring. By die begin van Jesus se bediening staan ons in die teenwoordigheid van dié ander werklikheid. Geloof in Jesus, God se geliefde Seun, vra om te leer leef in God se dimensie, selfs al kan ons dit nie sien nie. Dit is dissipelskap. Markus betrek ons by Jesus se verhaal as God se verhaal met ons elkeen.

Die toneel van Jesus se versoeking deur Satan in die woestyn, stel die aard van Jesus se aardse lewe en bediening in vooruitsig. Met die bril van Lydenstyd op kyk ons nou weer na vers 12-13, wat ons konfronteer met die vraag oor wat dit beteken om Jesus na te volg. Soos Jesus met sy doop bevestig en toegerus is om die woestyn te trotseer, moet Jesus se dissipels ook toegerus word om na die woestyn gestuur te word as getuies van God se Koninkryk wat naby gekom het.

In Jesus se woestynervaring voer Hy die groot drama op van Israel se uittog uit Egipte; Israel se reis deur die woestyn na die beloofde land. Jesus moet dié weg gaan juis omdat Hy God se geliefde Seun is. Dit is ’n weg deur droogte, versoekings en oënskynlike mislukking heen. Markus beskryf Jesus se woestynervaring in terme van gevaar, honger en alleenheid. Anders as Israel wat op hul reis teen God en Moses murmureer, slaag Jesus om God se wil deur te voer en nie toe te gee aan Satan nie.

As Jesus se dissipels op weg deur die lewe (woestyn), weet ons reeds en moet ons dit ook verwag, dat Jesus se ervaring ook ons arvaring is en sal wees. Lydenstyd herinner ons aan Jesus se bediening en maak ons opnuut bewus van die stem uit die wolk wat God se liefde vir Jesus aankondig (Mark 1:10). Jesus het reeds die weg gegaan wat al sy volgelinge moet gaan. Hy het die reis voltooi omdat Hy die woorde van liefde gehoor het, die woorde van lewe. Jesus beliggaam God se liefde.

Jesus se lyding verkondig dat God na elkeen van ons kyk deur die werklikheid van Jesus se dood en opstanding. Omdat Jesus deur sy lyding vir ons die lewe bemiddel, kyk God nou na ons as sy geliefde kinders in wie God Hom verheug. Deur die woestyn van lyding na die oop hemel van lewe!