GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 19 FEBRUARIE 2024
RCL JAAR B – EERSTE WEEK VAN LYDENSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 25:1-10
Here, my God, aan die begin van Lydenstyd –
bied Psalm 25 vir my taal om in die gees van Jesus se lyding,
diep in myself in te kyk en u verbondsliefde te herbesoek.
Bewus van die sondes van my jeug en my talle oortredings,
ervaar ek ’n dubbele innerlike drang; dat U enersyds
nié aan my moet dink nie, maar my sondes sal vergeet,
maar andersyds juis aan my sal dink, omdat U goed is, Here.
Here, in Lydenstyd volg ek en mede-gelowiges die herinneringspad –
van Jesus se onbaatsugtige offer sodat sondaars kan lewe.
Dit is ’n geestelike tyd waarin ons verlang na u bekende paaie.
’n Seisoen waarin ons wil leer van u weë.
Lei ons deur die waarheid, Here.
Wanneer die insig daag dat al die paaie van die Here –
troue liefde en waarheid is, ontwaak die verlange opnuut
om te hou by u verbond en u bepalings.
Ja, U, Here, is goed en reg.
Op my / op ons herinneringspad in Lydenstyd –
is daar die troosvolle versekering, Here,
dat niemand wat op U wag, beskaamd staan nie.
My God, ek / ons wag op U die hele dag.
In die spieël van Jesus se lydenspad,
weerkaats my innerlike gemoed:
na U, Here, hunker ek;
op U wag ek die hele dag.
My God, Lydenstyd leer my opnuut die betekenis
van u verbond, u bepalings en u troue liefde.
U is die God wat my red.
U is goed, Here.
Lei my…
Leer my…
U barmhartigheid en troue liefde,
is van altyd af daar – Genadige God.
Amen