Die heerlikheid van Jesus, God se geliefde seun

Sesde week na Epifanie Jaar B: Vrydag 16 Februarei 2024

MARKUS 9:2-9

Markus se vertelling oor Jesus se aardse bediening gaan in versnelling by die sesde week van Epifanie, as die Kerkjaar oorgaan in die Seisoen van Lydenstyd. Sondag 11 Februarie was Verheerlikingsondag en Woensdag 14 Februarie, Aswoensdag, die begin van Lydenstyd.

In die lig van die Kerkjaarkalender spring ons lesing van Markus se vertelling na hoofstuk 9, waar Jesus saam met drie dissipels teen die berg Hermon opgaan en verheerlik word as God se unieke, geliefde Seun.

Die toneel in ons Skrifdeel is ongewoon. Die sluier lig oor die alledaagse en lê ’n dieper werklikheid bloot. Tot by dié punt in Markus se vertelling het Jesus figuurlik sy dissipels teen die berg opgeneem om aan hulle ’n nuwe uitsig op God se koninkryk te gee. Jesus het op verskillende wyses aan sy dissipels openbaar wat God besig is om in die wêreld te doen. Die dissipels het stelselmatig begin besef Jesus is werklik die Messias. In Hom word God se Koninkryk sigbaar.

In Markus 9 neem Jesus die dissipels dan letterlik die berg uit. Weer word God se Koninkryk aan hulle geopenbaar. Nou op die vlak van Jesus se kernbediening. Hy sit die profete Elia en Moses se take voort en voltooi dit. Elia en Moses het albei voor die oë van mense verdwyn en nie normaal gesterf nie. Op Hermonberg verskyn albei weer, maar saam met Jesus in sy glansryke heerlikheid. Jesus het voor die dissipels van gedaante verander, gevul met God se liefde, krag en Koninkryk. Die lig wat Jesus se hele wese transformeer, is ‘n teken daarvan dat Hy die ware profeet is, die beloofde Messias.

Dit is presies wat die hemelse stem bevestig. Jesus is God se unieke, geliefde Seun (vers 7). Dié identifikasie verruim en verdiep die dissipels se verstaan van Jesus as Messias. Hy is méér as wat hulle verwag het. By Jesus se doop in Markus 1:11 het die stem uit die wolk met Jesus self gepraat. In Markus 9:7 praat die stem met die dissipels oor wie Jesus is, met die opdrag: “Luister na Hom!” Jesus sê weer vir sy dissipels dat hulle nie mag vertel wat hulle gesien het nie, met ’n tydsbepaling: “voordat die Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie.”

Jesus se verbod om nie te vertel nie, bring twee belangrike temas vir Lydenstyd ter sprake. (i) Jesus praat oor sy opstanding uit die dood en; (ii) Hy gebruik die benaming ‘Seun van die Mens.’ Die gedagte oor opstanding uit die dood verwar die dissipels. Hulle redeneer met mekaar oor die betekenis daarvan. Die benaming ‘Seun van die Mens’ kom uit Daniël 7:13. Markus gebruik dié benaming veral om Jesus uit te beeld as die Een wat gekom het om ooreenkomstig God se wil lyding te verduur (Mark 8:31) en om sodoende die Skrifte te vervul (Mark 9:12; 14:21).

Die benaming ‘Seun van die Mens’ verwoord tegelyk die seer en die swaar van Jesus se roete kruiswaarts, maar ook sy almag as toekomstige regter en Redder oor die hele wêreld. Die gebeure op die Hermonberg waar Jesus van gestalte verander en verheerlik word as God se unieke, geliefde Seun, saam met die tog van die berg af waar Jesus Hom as lydende Seun van die Mens aan sy dissipels voorhou, is die inhoud van die evangelie waarmee ons vandag na die werksplekke gaan.

Die Seisoen van Lydenstyd gee ons geleentheid om saam met die dissipels van destyds diep na te dink oor wat Jesus se dood en opstanding vir ons en die wêreld beteken.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *