Fotokrediet: Canva
Een Vrydagoggend was ‘n geestelike werker van ‘n Bolandse dorp weer op besoek aan een van sy maandelikse bedieningspunte. Dit was by die eienaar en werknemers van ‘n drukkery.
Tydens sy vorige besoek vier weke gelede, was daar net vier werknemers aan diens omdat produksie as gevolg van beperkte kontrakopdragte ingekort is.
Die geestelike werker vertel: “Ek het gewonder wat om op hierdie Vrydagoggend te verwag en het gedink aan die voorbereide boodskap uit Matteus 14:22-33 oor Jesus wat op die water na sy vreesbevange dissipels in die boot op die meer gestap het. Ek het gewonder hoe toepaslik sou die dissipels se ervaring van die storm op die water vir die konteks van hierdie werksplek wees. Hoe is Jesus se beoordeling van Petrus se klein geloof destyds, vandag beskrywend van die werknemers by hierdie onderneming?
“Toe ek by die drukkery instap, heers daar egter ’n opvallend positiewer atmosfeer in die werksruimte en tussen die werksmense as die vorige maand. Op daardie oggend was daar weer veertien produksiewerkers aan diens skouer-aan-skouer met die eienaar van die onderneming.
“Die nagskofpersoneel was gereed om van diens af te gaan en die dagskofspan het een-vir-een ingekom. Die ruimte binne die lokaal waar die ontmoeting gewoonlik plaasvind, was gevul met stapels drukwerk wat getuig van die nagskof se produksie-afhandeling van bestellings wat hulle aan die begin van hulle skof ontvang het.
“Dit wat ek voor my gesien het, was ‘n ervaring van lewe en hoop. Hierdie mense was opgewonde oor die geleentheid om te kan werk en in hul lewensonderhoud te kon voorsien. Die eienaar was entoesiasties en het met nuwe ywer tussen die mense beweeg, terwyl hy hulle groet en begin gesels oor die dag se opdragte.
“Terwyl daar gewag is dat almal in die gebou by die groep aansluit vir die meditasie en gebed, het ek tussen die stapels drukwerk rondgestap om te sien wat daar gedruk is. Ek was verwonderd en verras. Die groot verskeidenheid produkte wat gedurende die afgelope produksietydperk deur die interaksie tussen masjiene en mense geskep en gevorm is, was verstommend. Dit het getuig van kreatiwiteit en diversiteit. Daar was verskillende vorme en kleure bemarkings- en verpakkingsmateriaal in stapels uitgestal, gereed om gelaai en afgelewer te word by kliënte wat hul produkte daarin verpak en versprei. Daar was materiaal vir lekkergoed, eiers, parfuum, wyn en vele meer. Daar is materiaal vir dieselfde produk, byvoorbeeld eiers, maar verskillende produsente, dus markmededingers. Die vorm van die materiaal wissel en het die pragtigste illustrasies en inligting daarop. Dit alles is vervaardig deur mense wat met masjiene uitvoering aan bestellings van ondernemings ver buite hierdie produksieruimte gee.
“Ek het opnuut bewus geword van wat daar in werksruimtes gebeur en hoe daar lewe gegenereer word deur die kundigheid en vaardighede van mense. Hierdie werksplek is een voorbeeld van die harmonie tussen mens en masjien met die oog op die voorsiening van moontlikhede vir die daaglikse lewe en behoefte van gemeenskappe.
“Die feit dat hierdie onderneming materiaal voorberei vir markmededingers, is op sigself ’n stukkie evangelie. Dit is ’n demonstrasie van hoe diversiteit gedien kan word deur die gawe van kennis en vaardigheid. Dit wat ek op die vloer van daardie drukkery gesien het, het my laat besef dat die span wat daardie produksie gelewer het, met vreugde en vervuldheid kan gaan rus.”