GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 12 FEBRUARIE 2024
RCL JAAR B – SESDE WEEK NA EPIFANIE
(Gebed na aanleiding van Psalm 50:1-6)
God van die gode, Here, U het gepraat –
so getuig Asaf, die psalmis in vers 1.
Saam met die ekumeniese kerk op aarde,
bepeins ons Psalm 50 op Verheerlikingsondag,
die week waarin Lydenstyd met As-Woensdag begin.
Met Epifanie vier ons u lig wat op ons straal, Here.
In glansryke heerlikheid roep U die aarde en die hemel,
om u getroue volgelinge vir U bymekaar te maak.
Die hemel maak u geregtigheid bekend.
Die verse wat ons oordink, Here ons God –
bevat die aankondiging van u oordeel;
U wil u saak teen u volk stel, hulle het U vergeet,
gedink U is soos hulle (verse 21, 22).
U woord van destyds kom dié week na ons toe, Here.
Wanneer gelowiges fees vier oor Jesus se verheerliking,
roep U u getroue volgelinge tot selfondersoek.
Asaf se woorde in Lydenstyd, herroep u geregtigheid.
Here, ons bring ook ons offers aan U.
Ons wil u verbond met ons opnuut bevestig.
Maar wanneer u heerlikheid oor ons straal,
sien ons die saak soos U dit uiteensit:
Ons vergeet U so dikwels!
Here, u geregtigheid straal oor ons.
Ons is skuldig aan nalatigheid en versuim.
Ons minag u heerlikheid.
Maar die psalmis ken ook u genade;
God wat oproep tot verantwoording,
is komende en gaan nie stilbly nie.
Niemand anders as God kan ons red nie!
U kom spreek die laaste woord as Verlosser:
“Wie dankoffers bring, eer My en wie ’n weg baan –
Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.” (vers 23)
Kom gou, God van die gode, ons God.
Amen