Jesus het gekom om te preek oor die Koninkryk van God

Vyfde Week na Epifanie Jaar B: Vrydag 9 Februarie 2024

MARKUS 1:29-39

Ons volg Markus se vertelling oor Jesus se aardse bediening en sien deur die bril van Epifanie hoe God sy heerskappy (Koninkryk) in ons wêreld openbaar. In Markus 1:21-28 ontmoet ons Jesus as Leermeester in die Kapernaum-sinagoge waar Joodse gelowiges hul godsdiens beoefen. Teen die agtergrond van Jesus se gesaghebbende lering konfronteer Hy ’n man wat in die mag van ’n onrein gees was. Jesus dryf die onrein gees uit die man uit en bevry hom van dié mag. Die mense beoordeel hierdie geestelike genesing as ’n nuwe gesaghebbende lering (vers 27).

In vers 29-39 stel Markus Jesus verder bekend. Hy beskryf nog eienskappe van Jesus, asook die doel van sy aardse bediening. Vers 29 vertel dat Jesus se bediening nie beperk was tot die sinagoge nie. Hy bedien mense ook binne die persoonlike ruimte van hul huise; die huis van Simon en Andreas. Jesus se bediening fokus hier op die genesing van Simon se skoonmoeder en openbaar sy identiteit as Geneesheer. God se koninkryk kom waar iemand siek is. Dit demonstreer Jesus se gesag oor siekte. Hy verteenwoordig God se Koninkryk. God het deernis met mense in nood.

Vers 32-34 vertel hoe die mense reageer op Jesus se gesag oor onrein geeste (demone) en siekte. Markus skryf: “hulle [het] almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring.” Die dorp se mense het by die huis saamgedrom. Jesus het mense van allerlei kwale genees en demone uitgedryf. Jesus, die Geneesheer en Bevryder van demone, het aandag getrek. Hy sorg en gee om vir mense. Jesus het gesag oor demone en hulle weet wie Hy is (vers 34). Inderdaad, die Koninkryk van God is op hande.

In vers 35 open Markus ’n venster op Jesus se intieme en persoonlike verhouding met God. Hy noem ’n geloofspraktyk waardeur Jesus sy verhouding met God voed en versterk. Dié praktyk word herhaaldelik in die Evangelies genoem. Dit moet Jesus se dissipels aanspreek en as voorbeeld dien vir ons persoonlike geloofsvorming. Die praktyk behels hier ten minste drie aspekte: (i) Dit was vroegoggend (nog stikdonker); (ii) Jesus het opgestaan en buitentoe gegaan om alleen te wees (na ’n verlate plek); (iii) Hy het tot sy Vader gebid. Jesus erken God se gesag en spandeer tyd met Hom.

In vers 38-39 openbaar Markus dat Jesus se bediening wyer strek as Kapernaum. Hy laat nie toe dat mense Hom opeis om by hulle te bly nie (vers 37). Toe Simon en ander saam met hom by Jesus kom waar Hy gebid het, kondig Jesus aan hulle moet verder beweeg na die naburige dorpies toe. Die geografiese omvang van Jesus se bediening van God se Koninkryk, is wyd en inkluslief. Ander moet dit ook ontvang. Vers 39 vat Jesus se bediening op dié punt saam: Hy het (i) deur die hele Galilea gegaan, (ii) in hulle sinagoges gepreek (lering) en (iii) demone uitgedryf (geestelike bevryding/genesing).

Markus stel Jesus gaandeweg aan ons bekend en gee ons ’n blik op insidente in Jesus se bediening, waar God se Koninkryk op hande is en sigbaar word. Markus laat ons as Jesus se dissipels hoor hoe Hy sy roeping en gestuurdheid na die wêreld verstaan. Hoor Jesus se woorde in vers 38: “…sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

Vandag kan ons Jesus hierin navolg in die werksplekke van ons omgewing.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *