Die deernis van ‘n barmhartige buurman dra my

Een van Arbeidsbediening se vele geestelike werkers deel hierdie mooi getuienisstorie met ons tydens sy besoek aan ’n senior dame nadat haar eggenoot aan leukemie gesterf het: “Die dame en haar man het ‘n tyd gelede vanaf die platteland na ‘n dorp in die Boland verskuif om nader aan hul dogter te wees. Omdat haar man ernstig siek was, sou hulle dan ook binne bereik van goeie mediese sorg wees.

“Op die plattelandse dorp waar hulle baie jare gewoon het, het hulle hegte vriendskappe gesmee en mekaar onderling ondersteun en versorg. Behalwe vir die aanpassing in die nuwe Bolanse dorp en die totaal andersoortige samestelling van die gemeenskap waarin hulle toe hul voete moes vind, moes hulle ook aanvaar dat die vriende van die verlede nie so naby en beskikbaar sou wees soos gewoonlik nie. Die ondersteuningstruktuur wat sekuriteit betref, was nou nie meer daar nie.

“Die dame vertel toe verder dat daar in die woonstelblok waar sy nou woon ’n enkellopende middeljarige man woon wat hom dadelik oor hulle begin ontferm het. Hy het sy hulp deurentyd aangebied, by die deur ingeloer om te hoor hoe dit gaan en sy beskikbaarheid aangebied indien daar enige situasie sou opduik waarvoor hulle hom nodig sou kry.

“Met die nag van haar eggenoot se afsterwe, het die vrou die hulp van die barmhartige buurman ingeroep. Hy was onmiddellik gereed om te help. Hy het dadelik die reëlings oorgeneem en gesorg dat die liggaam deur die begrafnisondernemer weggeneem word en tot die oggend om twee-uur ondersteuning aan haar en haar kinders, wat intussen opgedaag het, gebied.

“Hierdie vrou het die grootste waardering vir die hulp wat dié deernisvolle buurman aan haar en haar kinders betoon het; hy beteken vir hulle ook geweldig baie in die hartseer tyd wat sy tans beleef. Dit is presies die soort ondersteuning wat sy in haar vorige dorp sou ontvang. Is dit nie wonderlik nie?

“Die vrou vertel ook dat sy vir haar weldoener gevra het hoe sy hom kan bedank vir wat hy vir haar en haar eggenoot gedoen het en steeds vir haar doen. Sy antwoord aan haar was baie eenvoudig: ‘Ek weet net twee dinge – wat my naam is en dat ek ’n verskil wil maak waar ek is.’

“Vir my is hierdie lewenshouding die eintlike evangelieboodskap; liefde vir die naaste omdat die Here se liefde my en jou lewe verander het. Hoe sal ons wêreld nie lyk nie as ons almal verstaan dat ons deur God geroep word om ’n verskil te maak; om daar waar ons is die koninkryk van God te laat kom?”