GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 29 JANUARIE 2024
RCL JAAR B – VIERDE WEEK NA EPIFANIE
(Gebed na aanleiding van Psalm 147:1-11)
Here, U leer my wat goed is.
Ek wil gelowiges aanspoor om die goeie te doen;
om God se lof te besing met ’n danklied.
Dit is die gepaste leefwyse.
Soos die psalmis wil ek u goedheid verkondig, Here.
Hoor wat ons Here doen, geloofsgenote.
Ons God herbou Jerusalem na vernietiging.
Hy maak sy verstrooide volk bymekaar.
Die Here van Jerusalem, God van Sion –
is geweldig sterk, maar vol deernis vir brose mense:
Hy genees gebrokenes van hart, verbind hul wonde.
Die Here help die verdruktes op.
Ons God is goed! Sing vir die Here ’n danklied, gelowiges.
Dit is goed om God se lof te besing.
Ons lof en dank verskaf God vreugde.
Here, U wat groot en geweldig sterk is,
wat die hemelruim skep en op die aarde laat reën,
U verheug U nie in menslike kragdadigheid nie.
U vra net van u kinders om goed te doen.
Hoor die eenvoud wat ons God verlang, gelowiges.
Die ontsag wat ons aan God betoon,
bring vreugde in God se gemoed.
Sing vir die Here ’n danklied, julle wat vir Hom ontsag het –
sodat ons God vreugde vind in die goeie wat ons aanbied.
Dit is goed om op die Here te hoop.
Die troue liefde van ons God,
verdien ’n gepaste loflied.
Laat ons die Here se vreugde opwek!
Halleluja.
Amen