Ek weet wie U is.

Vierde Week na Epifanie Jaar B: Vrydag 2 Februarei 2024

 

MARKUS 1:21-28

Weet jý wie Jesus is?

Soms staan mens verslae oor die onverwagse plekke waar en persone by wie jy van Jesus hoor. Die woorde van die opskrif hierbo kom uit Markus 1:24. Dit verras jou, aangesien dit van ’n onrein gees kom met wie Jesus in Kapernaum in die sinagoge paaie kruis.

Markus neem ons agter Jesus aan waar Hy besig is om sy aardse bediening te volvoer. Jesus het pas die eerste dissipels geroep om Hom in sy bediening te volg. Dié toneel speel dan af in die sinagoge in Kapernaum. Hier gebeur ’n paar dinge wat vir Markus geleentheid gee om iets méér te sê oor wie Jesus is (sy identiteit). Vir ons nadenke oor dissipelskap is dit belangrike inligting.

Ons gee eers ’n tree terug. In vers 1 stel Markus die inhoud van die verhaal wat hy gaan vertel: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.” Vers 15 bevat die eerste woorde van Jesus se bediening: “… die koninkryk van God is op hande.” Dat Jesus die nabyheid van die koninkryk van God verkondig, asook dit in sy persoon verteenwoordig, kom aan die lig wanneer Hy Satan se versoeking in die woestyn weerstaan én die eerste dissipels Jesus sonder huiwering volg.

Die sinagoge-toneel in Kapernaum stel ons bekend aan Jesus as leermeester. Nadat Hy die eerste dissipels geroep het, gaan Jesus dadelik na die plek van aanbidding waar Joodse gelowiges vergader om God te dien. Daar begin Jesus sy taak van lering. In vers 22 skryf Markus dat Jesus die mense met gesag geleer het. Die mense was selfs verwonderd en het Jesus se lering as meer gesagvol as dié van die skrifkenners beoordeel. Ja, die koninkryk van God is op hande en die mense herken iets daarvan.

Terwyl Jesus besig is met sy gesaghebbende lering, is daar ’n man in die sinagoge wat in die mag van ’n onrein gees was en van Jesus wou ontslae raak: “Los ons uit, Jesus van Nasaret!” Dié woorde stel die gesag waarmee Jesus optree, aan die orde. Die mag van die onrein gees oor die man daag die op-hande-koninkryk (heerskappy) van God uit. Sou Jesus die gesag van God se koninkryk in dié situasie demonstreer? Ja, skerp deur Jesus aangespreek, het die onrein gees uit die man uitgegaan.

Dit is interessant dat Markus sy eerste uitspraak in sy vertelling oor wie Jesus is, in die mond van ’n onrein gees lê. Die onrein gees lig die leser in oor wie Jesus is: “U is die Heilige van God!” Die onrein gees weet in wie se teenwoordigheid hy/sy verkeer. Die gebeurtenis maak dit onomwonde duidelik dat hier ’n stryd aan die gang is tussen koninkryke. Jesus demonstreer in dié onderonsie dat Hy God se heerskappy (koninkryk) verteenwoordig.

Binne die raamwerk van die sinagoge waar lering die fokus is, interpreteer die mense dit wat hulle hier sien en beleef, as ’n moontlike nuwe leer. Die 2020-vertaling beklemtoon die gesag waarmee Jesus optree, as die mense redeneer oor die “gesaghebbende” lering. So is die koninkryk van God sigbaar in Jesus se optrede, hier in lering asook in heerskappy oor ’n onrein gees.

Die gevolg is dat die nuus oor die sinagoge-gebeure in die hele omgewing van Galilea versprei het. Dissipels vertel ook vandag oraloor dat hulle vir Jesus ontmoet het en wat hulle in sy teenwoordigheid beleef het, naamlik dat God se koninkryk op hande is – teenwoordig en steeds komende.