“Kan ek vir Tannie bid?”

Ons kry daagliks onverwagte geleenthede wat God op ons pad plaas om vir iemand Christus se teenwoordigheid te laat ervaar.  Laat ons as Christene meer daarvan bewus wees en sensitief wees vir moontlike geestelike behoeftes van die mense met wie ons daagliks kontak maak.

Een van Arbeidsbediening se geestelike werkers vertel: “’n Senior dame wat pas nege dae vantevore haar eggenoot as gevolg van leukemie aan die dood afgestaan het, vertel van haar ervaring by ‘n winkelsentrum op ‘n Bolandse dorp waarheen sy en haar oorlede eggenoot slegs twee maande gelede verhuis het.”

Die dame vertel: “Ek het die middag kruideniersware by die winkel gaan koop, dit in my inkopiesak met wiele gelaai en dit tot by my motor getrek. Daar aangekom, besef ek skielik dat ek nie die mobiele inkopiesak alleen in die motor sal kan optel nie. Ek sien toe ’n jongman daar naby my motor met iemand gesels en gaan nader en vra of hy my dalk met die inlaai van die kruideniersware kan help. Hy was onmiddellik gewillig.

“Nadat hy die mobiele inkopiesak met kruideniersware in my motor gelaai en nog ’n paar woorde met my gewissel het, het hy uit die bloute gevra of hy vir my kan bid. Ek kon dit nie glo nie! En sommer net daar, in die parkeerarea langs my motor, begin hy vir my te bid. Dit was asof die Here self sy arms om my gesit het. Daardie jongman sal nooit weet wat sy gebed dié dag vir my beteken het nie. Dit het getuig van ’n intieme verhouding wat hy met die Here het en dat hy sensitief was vir my behoefte aan troos.”

Hierdie storie getuig van ‘n jongman wat vir ’n vrou in ‘n tydperk van rou se ‘arms help oplig het’ en in daardie parkeerplek nuwe moed vir die lewe help gee het deur vir haar te bid. Deur hierdie gebaar kon sy iets van Christus ervaar.