GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 29 JANUARIE 2024
RCL JAAR B – VIERDE WEEK NA EPIFANIE
(Gebed na aanleiding van Psalm 111)
Here, die doel waarom ek lewe,
asook hoe ek voor u aangesig verkeer,
is dié van hartlike lofprysing.
Ek wil soos die psalmis –
U met my hele hart prys.
Met alles wat en wie ek is,
wil en moet ek U prys.
Wat U doen is glansryk en vol luister!
Soos die psalmis, wil ek U nie in isolasie,
of op my eie prys nie, Here.
Ek wil u prys saam met hulle,
wat u genade en barmhartigheid deel.
Om U te prys, Here –
kenmerk die kring van opregtes.
Hulle kom bymekaar en getuig oor u werke.
Saam vind óns vreugde in wat U doen.
Prys die Here, kring van opregtes!
Here, u werke spoor ons aan om U te prys.
As opregtes deel ons met mekaar,
die wonders wat U gedoen het.
Die werk van u hande is betroubaar en reg.
Here, as kring van opregtes –
bestaan ons vanweë u ewige verbond.
U het gekies om U aan mense te verbind;
U wil óns God wees.
Hier is ek saam met die opregtes, Here ons God.
Ons omhels u verbond en wil u kinders wees.
Ons spoor mekaar aan om U te prys,
want dit is wat wysheid doen.
Laat ons die Here van harte prys, opregtes.
Heilig en ontsagweggend is sy Naam.
Amen