Derde Week na Epifanie Jaar B: Vrydag 26 Januarie 2024
MARKUS 1:14-20
Ons gaan voort met ons reis deur die Kerkjaar en hoofmomente van God se verlossingsverhaal in Christus. Die Markusevangelie beskryf die begin van Jesus se aardse bediening in die eerste hoofstuk. Nadat Markus oor Jesus se doop geskryf het (3 verse) en oor sy versoeking deur Satan in die woestyn (2 verse), gee die Evangelis ’n kort opsomming van Jesus se verkondiging in vers 14-16 en sy roeping van die eerste vier dissipels om Hom te volg (vers 16-20).
Markus beskryf die inhoud van Jesus se verkondiging met vier kenmerke: Dit is die evangelie van God (1). Die verkondiging vind plaas in ’n bepaalde tydsgewrig (2); die “bestemde tyd” wat nou vervul is. Met dié verkondiging is die koninkryk van God (3) op hande (2020-vertaling). Die 1957 Afrikaanse Bybel met verwysings vertaal vers 15 as: “die koninkryk van God het naby gekom”. (Ook 1983-vertaling) Die verkondiging behels ’n tweeledige oproep (4): tot bekering en om in die evangelie van God te glo.
‘Die koninkryk van God het naby gekom’, verwys na Jesus as God se verskyning in die wêreld. Dit wys ook terug na vers 12-13 waar Jesus die Satan troef en God se koninkryk demonstreer. God se heerskappy in die persoon van Jesus, kom verder aan die lig as Jesus vir Simon, Andreas, Jakobus en Johannes in vers 16-20 roep om Hom te volg. Die gesag van God se heerskappy (koninkryk) waarmee Hy optree, is sigbaar in die reaksie van die vier vissermanne.
Markus beskryf die vissermanne se gedrag opvallend positief in dié roepingsverhaal. Hulle reaksie op Jesus se oproep om Hom te volg, dui op model-dissipelskap, asof Markus wil beklemtoon wat die aard en intensiteit van dissipelskap behels. Hulle het onmiddellik gereageer op Jesus se oproep. Hulle het alles gelos waarmee hulle besig was en Jesus gevolg. Hulle het alle ander verhoudinge en verantwoordelikhede laat staan en weggegaan agter Jesus aan.
Die punt is dat Jesus radikale gehoorsaamheid, oorgawe en toewyding verlang. Later in die verhaal sien ons wel dat Jesus se dissipels nie dié voorgestelde modelgedrag handhaaf nie. Trouens, Markus is selfs negatief oor hulle onbegrip aangaande dissipelskap. In Markus 9:34 stry hulle byvoorbeeld oor wie die belangrikste is. Ons moet verstaan dat wanneer Jesus ons roep tot dissipelskap, Hy van ons eis om Hom onvoorwaardelik te volg.
’n Mooi insig uit dié roepingsverhaal is dat dit ons oë open om nuut na ons dagtaak of beroep te kyk. Is dit nie moontlik dat Jesus jou roep om juis in jou huidige taak voort te gaan nie? Hy roep jou nie noodwendig weg van waarmee jy besig is nie. Hy wil jou dalk net bewus maak dat dit wat jy elke dag doen moontlikhede bied om jou ’n visser van mense te maak.
Laat ons mekaar help om met hierdie perspektief te kyk na ons daaglikse doen en late.