Eerste Week na Kersfees Jaar B: Vrydag 5 Januarie 2024
LUKAS 2:22-40
In die week ná die eerste Sondag na Kersfees én die begin van die nuwe kalenderjaar, is ons bewus van ’n besondere moment in die mens se voortgaande lewensritme. Ons staan op die oorgang van die ou na die nuwe jaar. Terselfdertyd herinner die Christelike Kalender of die Liturgiese Jaar, ons aan Jesus se geboorte en lewe op aarde. Die Liturgiese Jaar fokus ons aandag as Jesus se kerk, op ’n geleentheid in Jesus se grootwordjare waarvan Lukas 2:22-40 vertel. Jesus se ouers het hulle eersgebore seun volgens die voorskrif van die Wet van die Here na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Lukas beklemtoon hier Jesus se Joodse agtergrond en sy ouers se wetsgehoosaamheid.
In Lukas se vertelling maak hy melding van die optrede van twee persone, wat die verwagting en voorbereiding vir die koms van God se Messias na die wêreld in die destydse Joodse konteks beklemtoon. Hulle was Simeon, ’n wetsgehoorsame en toegewyde man wat uitgesien het na die herstel van Israel. Die ander was ’n profetes met die naam Anna, reeds op gevorderde ouderdom, wat nie van die tempelterrein af weggebly het nie en God dag en nag gedien het deur te vas en te bid. Lukas se bekendstelling van dié twee persone, lê klem op geloofspraktyke wat hulle lewe in aanbidding tot God gevorm en gekenmerk het. Hulle het die gemeenskap met God toegewyd beoefen.
Lukas vertel die Heilige Gees was met Simeon. Hy het ’n openbaring van die Heilige Gees ontvang oor die Gesalfde van die Here en sou nie sterf voordat hy die Gesalfde gesien het nie. Simeon het deur die Heilige Gees na die tempelterrein toe gegaan op die moment toe Jesus se ouers die Kindjie inbring om hul wetlike verpligting ten opsigte van die wyding van hulle eersteling seun na te kom. Simeon se intieme lewe met God, het hom op die bestemde tyd by die bepaalde plek vir ontmoeting met die Gesalfde gebring. Hy kon die Kindjie in sy arms neem en het God geloof vir die bevestiging van die openbaring. Nou kon Simeon sterf. Hy het God se verlossing gesien, ’n lig vir die nasies tot openbaring.
Oor die profetes Anna, skryf Lukas sy het op die oomblik van Simeon se ontmoeting met die Gesalfde nader gekom en God gedank. Sy het met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat. Haar openbare getuienis teenoor almal, dien as aansporing vir ons wat in die Gesalfde van die Here glo as ons Verlosser. As sy dissipels moet ons na almal uitreik met die boodskap dat Jesus die Here is. Simeon se woorde aan Jesus se ouers gee inhoud aan die boodskap wat ons moet bring: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en opstaan van baie mense in Israel, as ’n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kom.” (vers 34-35)
Lukas se vertelling eindig met die herhaling dat Jesus se ouers gehoorsaam aan die wet van die Here gehandel het. Hulle het alles nagekom wat die wet van die Here van hulle verwag het en was verstom oor die dinge wat by die Tempel oor die Kindjie gesê is. Dis ons voorreg om oor dié gebeure teenoor almal wat die Here op ons pad bring te getuig. Mag die Heilige Gees met ons wees soos met Simeon.