Vierde Week van Advent Jaar B: Vrydag 29 Desember 2023
LUKAS 1:26-38
In die vierde week van Advent, die week van Kersfees, lees ons Lukas se vertelling oor die aankondiging van ’n spesiale boodskap deur God se gestuurde engel, Gabriël. Dit gebeur op ’n historiese moment, toe Elizabeth reeds ses maande swanger was. Die boodskap moes by ’n spesifieke adres afgelewer word, Nasaret in Galilea, aan ’n geïdentifiseerde persoon. Sy was ’n maagd met die naam Maria, wat verloof was aan ’n man met die naam Josef. Hy was uit die nageslag van Dawid. Lukas se vertelling beskryf ’n gebeurtenis wat met konkrete historiese besonderhede ondersteun word.
Die besoek van die engel Gabriël aan Maria, het dié jong meisie uit die veld geslaan. Sy ongewone groet het Maria verwar en haar laat wonder oor die betekenis daarvan; ‘begenadigde vrou’ en ‘die Here is by jou’. Dié verrassende besoek het Maria verwar, maar vir ons is dit wesenlik belangrik binne die Christelike tradisie wanneer ons die geboorte van Christus met Kersfees vier. Die besonderhede van dié besoek en boodskap is deel van die kerninhoud van wat ons as Christus-volgelinge glo.
Lukas se vertelling van dié gebeurtenis nooi Kerfeesgangers uit om op twee vlakke dieper na te dink. Op die eerste vlak moet ons deeglik kennis neem van die inhoud van God se boodskap deur Gabriël aan Maria. Sy het genade by God gevind. God het haar uitgekies as aardse werktuig vir die uitvoering van sy verlossingsplan vir die sondige wêreld. Gabriël se aankondiging openbaar beide God se karakter en werkswyse, én identifiseer die menslike werktuig vir wie God gaan gebruik om sy wil op aarde te laat geskied, soos in die hemel. God kies ’n jong meisie om ’n verloregaande wêreld te red.
Ons moet op die eerste vlak kennis neem dat Maria swanger sal word om aan ’n seun geboorte te skenk. Reeds by die aankondiging word die seun se naam aangedui as Jesus. Sy karakter word beskryf met ’n aantal eienskappe: ‘magtig’ en ‘Seun van die Allerhoogste.’ Die seun, Jesus, sal die troon van sy voorvader Dawid ontvang, en vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Dit bring Josef se verband met Dawid ter sprake. Oor hierdie Jesus gaan al die vieringe van Kersfees. Sy heerskappy het geen einde nie, kondig Gabriël aan. Ons glo in Hom as ons Here en Verlosser.
Op die tweede vlak moet ons ook nadink oor Maria se reaksie op die ontmoeting met Gabriël en sy boodskap aan haar. Sy kon God se besluit en boodskap eenvoudig nie begryp nie. God se weë was buite haar verwysingsraamwerk; te wonderbaar vir haar menslike begrip. Maria se vraag behoort ook ons vraag te wees wanneer ons van God se teenwoordigheid in ons lewe bewus word. God besoek ook vir ons op maniere wat ons daaglikse ervarings te bowe gaan. Die verwondering in Maria se vraag is iets wat ons behoort te koester: “Hoe kan so iets moontlik wees?”
Al lees ons dié verhaal 2000 jaar ná die geboorte van Jesus, en nadat gelowiges al eeue lank die Seun se wonderbare geboorte vier met Kersfees, behoort die boodskap deur Gabriël ons steeds in verwondering onkant te vang. Gabriël het Maria te midde van haar verwarring verseker van God se getroue liefde en verbondstrou met die belofte dat die Heilige Gees haar met die krag van die Allerhoogste sal oorskadu. Gabriël het ook vertel van die bejaarde Elizabeth wat deur God se ingrype swanger is, met die kommentaar dat geen woord wat van God af kom, kragteloos is nie.
Maria se uiteindelike oorgawe aan die oorweldigende besoek van God deur sy engel, is aangrypend: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” Totale oorgawe in diensbaarheid! Dit is dissipelskap in die lig van die Kerfeesboodskap.