Ons getuig van die LIG

Derde Week van Advent Jaar B: Vrydag 22 Desember 2023

JOHANNES 1:6-8, 19-28

Die derde week van Advent, een week voor Kersfees, die viering van Jesus se menswording. Die derde Advent fokus tradisioneel op vreugde, terwyl die intensiteit van voorbereiding en afwagting toeneem. Met die gees van afwagting en voorbereiding in die harte van Jesus se kerk en dissipels oor Jesus se koms, herinner die Evangelis Johannes ons aan ons roeping en taak in die lig van die nuwe wat op die punt staan om aan te breek.

Die Evangelis vertel van ’n ander Johannes, naamlik die Doper, wat deur God gestuur is voordat Jesus as mens op aarde begin optree het. Die Evangelis beskryf die taak en opdrag van die Doper as dié van ’n getuie. Die fokus en inhoud van sy getuienis is die lig wat aan’t kom was na die wêreld toe, deur wie almal tot geloof kon kom. Die Evangelis maak dit sy taak om enige misverstand oor die Doper se identiteit uit die weg te ruim; hy was nie self die lig nie, maar moes oor die lig getuig.

Die Eevangelis se erns om misverstande oor die Doper se identiteit te besweer, was nie denkbeeldig nie. Die Jode het immers priesters en Leviete uit Jerusalem na die Doper toe gestuur om by hom persoonlik uit te klaar wie hy werklik is. In die Doper se antwoord op dié navraag hoor ons hoe hy sy roeping en opdrag verstaan. Sy verklaring oor sy identiteit en gestuurde roeping beklemtoon ook ons identiteit en inhoud van ons getuienis met die oog op Kersfees en die wederkoms van die Messias vir die wêreld.

Dit is interessant dat die Evangelis twee frases teenoor mekaar stel om presies aan te dui wie die Doper is. Hy het “nie ontken nie”, maar “openlik verklaar” wie hy is. Sy verklaring bestaan uit enkele negatiewe stellings wat die lig volledig op God se Gesalfde (Christus) laat val: “Ek is nie …!” die Christus nie; nie Elia nie; nie dié Profeet nie. Op die afvaardiging se aandrang oor wie hy wel is, gee die Doper ’n helder antwoord met ’n positiewe formulering: “Ek is die stem van een wat uitroep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here reguit!’” Die Doper definieer verder wie hy is met verwysing na die profeet Jesaja wat reeds sy rol en identiteit in God se verlossingsgeskiedenis aangekondig het.

Die Joodse afgevaardigdes wou meer weet. Hulle het die Doper uitgedaag om te verduidelik waarom hy dinge doen soos om die doop te bedien, wat volgens hul verwagting die funksie van die Messias of ’n profeet is. Weer eens het die Doper nie die lig op homself laat val nie. Hy was oortuig van sy posisie in verhouding tot Christus en wou die afvaardiging lei om Christus se identiteit te erken. Daar staan reeds Iemand in hulle midde wie hulle nog nie ken nie, sê die Doper. Hy is die Een wat na die Doper kom en Wie se sandale die Doper nie werd om selfs net los te maak nie.

Later in sy vertelling van Jesus se lewe sal die Evangelis telkens verklaar wie Jesus is in terme van ’n aantal “Ek is”-uitsprake. Daarby sal ons kan aansluit wanneer ons in hierdie dae teenoor mense wil getuig van Hom oor Wie die viering van Kersfees gaan. Ons het die heerlike voorreg om getuies te mag wees van die Christus. Die Doper leer ons om te verstaan wie ons is en Wie die inhoud van ons getuienis moet wees. Ons is nie die lig nie, maar het die roeping om van die Lig te getuig. Ons “is nie”, maar “Hy is”… die Christus van God.