Ons hoor dikwels van taxi-stakings, maar besef nie altyd wat die impak daarvan op besighede en hul werkgewers asook die werknemers is nie.
‘n Geestelike werker van Arbeidsbediening in ’n Bolandse dorp het die week na onlangse taxistakings in Kaapstad en omgewing een van sy bedieningspunte besoek. Hy vertel: “Die bedieningspunt is by die store en kantoor van ’n onderneming wat chemikalië vir verskillende skoonmaakmiddels verpak en versprei. Hulle het verspreidingspunte op verskillende plekke waarheen voorraad op daaglikse basis vervoer moet word. Vervoer en mensekrag is dus onontbeerlik, aangesien die voorraad op- en afgelaai moet word by beide die verspreidingspunte en die kliënte.
“Met die aankoms van die geestelike werker by die bedieningspunt en die eerste ontmoeting met ’n senior personeellid, was die eerste mededeling aan hom dat die vorige week se staking ‘vernietigend’ was. Die personeellid vertel dat hul werksaamhede volledig ontwrig is en dat hulle nie hul kliënte volgens die program en bestellingslys kon diens nie. Die feit dat werkers nie by die werk kon kom nie, asook onveilige roetes vir die aflewering van voorraad, het die besigheid ‘n groot knou toegedien. Dit het ook die werkers en hul gesinne benadeel omdat daar nie produksie en inkomste was nie.
“Soos wat die gesprek gevorder het, het die uitkringende effek van die taxistaking ontvou en het ek verneem hoe daardie vorige week se agterstande die week se program nadelig geraak het; ook watter spanning daar op die ganse sisteem geplaas is.
“Mense, die ekonomie, elke afsonderlike besigheid en volledige netwerke van interafhanklikheid is in so ‘n situasie ter sprake. Die emosionele en materiële impak van arbeidsoptrede in een sektor raak die groter web van ekonomiese aktiwiteite baie diep.
“As geestelike werker van Arbeidsbediening het ek die voorreg gehad om in hierdie uitdagende situasie die evangelie van Jesus Christus met werkers van ’n enkele onderneming te kon deel. Dit is inderdaad ’n voorreg, maar beslis ook uitdagend.
“Die konteks vra insig en begrip op verskillende vlakke, sodat die evangelie openbarend, vertroostend en versterkend gebring kan word. Daar is geen eenvoudige – en kitsoplossings nie. Dit vra wel deernis en liefde vir al God se mense.”