GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 22 JANUARIE 2024
RCL JAAR B –DERDE WEEK NA EPIFANIE
(Gebed na aanleiding van Psalm 62:5-12, saam met Jona 3:1-5, 10)
Here, die psalmis spoor hom-/haarself aan –
deur sy/haar siel aan te moedig,
om op God alleen te hoop.
Die gelowige bidder rig sy/haar siel tot U, Here –
omdat hy/sy u troue liefde gesien/beleef het.
Toe mense sy/haar lewe wou kortknip,
het U verlossend verskyn/ingetree.
Here, die bidder ervaar hoe leuenagtig mense is.
Hy/sy het in die hitte van die stryd om lewe ervaar,
dat U totaal anders is as mense.
U verskyn vir die bidder as rots en skuilplek.
Wanneer ek dié bidder se belydenis oordink, Here –
oorweldig die beeldryke beskrywing van U ’n mens;
asof daar nie genoeg taal is om oor U teenwoordigheid
te praat nie: Vind rus by God alleen!
Here, die psalmis het U beleef as rots en verlossing.
U was vir die bidder ’n toevlugsoord in onstuimige tye.
Die rus waarna die bidder smag,
vind hy/sy juis in U as ons skuilplek.
Here, hoe wyd u troue liefde en genade strek –
is vir ons sigbaar in die verhaal van Jona, u profeet.
U opdrag is dat hy in Ninevé moet aankondig,
dat U die heidense stad gaan straf oor hul sonde.
Maar U het gesien wat hulle doen, en die straf afgewend.
Ja, vind jou rus by God alleen, my siel.
Daar is geen ander plek van hoop nie.
En tog, Here ons God, verstaan ons u troue liefde nie.
Soos Jona nie kon insien hoe wyd u genade is nie,
maak ons U ook klein om in óns gedagtes te pas.
Totdat u genade verskyn, soos in Ninevé.
Dan moet ons by die psalmis aansluit:
by U, my Heer, is daar troue liefde.
By God lê my verlossing, my eer.
Vertrou te alle tye op God.
Amen