Tweede Week na Epifanie Jaar B: Vrydag 19 Januarie 2024
JOHANNES 1:43-51
Die Christelike Kerkjaar lei ons langs die hoofmomente van God se verlossingsverhaal in Christus. Ná ons viering van Jesus se geboorte met Kersfees, herinnering aan God se verskyning op Epifanie en bepeinsing oor Jesus se doop op Sondag ná Epifanie, neem die Kerkjaar ons op die tweede Sondag na Epifanie verder op Jesus se aardse bedieningspad.
Hier is die klem op die aanvang van Jesus se bediening en sy roeping van die eerste dissipels om Hom te volg. Johannes 1:43-51 vertel van Jesus se ontmoeting met Filippus en Natanael in Galilea. Eers kom Jesus Filippus teë, asof toevallig, en sê vir hom: “Volg My!” Filippus het na dié ontmoeting vir Natanael raakgeloop en dadelik met hom die nuus gedeel dat hy Hom gevind het van wie Moses in die Wet skryf, en ook in die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die Seun van Josef. Filippus kon nie stilbly oor sy kennismaking met Jesus nie.
Na die groot feesvieringe die afgelope weke oor Jesus se geboorte en God se verskyning, is die Kerkjaartema dié week Jesus se roeping en openbare bediening as mens. Hy roep aanvanklik ’n groepie mans om saam met Hom op weg te gaan vir sy aardse sending. Ons word uitgenooi om in die lig daarvan te peins oor wat dit vir ons eie lewe vandag beteken. Waarvoor roep God vir my / vir ons nou in sy kerk en koninkryk?
Die verloop van Jesus se ontmoeting met Filippus en Natanael toon ’n patroon wat nadenke ontlok. Jesus roep Filippus, wat weer vir Natanael roep. Natanael is aanvanklik skepties oor Filippus se mededeling oor wie Jesus is. Wanneer hy egter vir Jesus persoonlik ontmoet, verander hy van mening en verklaar sy vertroue in Jesus. Dié oënskynlike patroon suggereer iets van die beweging tot geloof deur ’n persoonlike ontmoeting met Jesus Christus.
Johannes se verhaal oor Filippus en Natanael konfronteer ons met Jesus se benadering om mense te roep om Hom te volg en deel te word van God se koninkryk. Dit maak ons ook bewus dat mense op ons lewenspad tot geloof in Jesus Christus kom, deur die getuienis wat ons uitdra oor óns persoonlike ontmoeting met Jesus. Al sou mense agterdogtig wees oor ons getuienis, is dit Jesus wat uiteindelik die geloof in iemand se hart bewerk.
Vir ons besinning oor dissipelskap en ons roeping om die evangelie van Jesus Christus in die werksplek te bring, bied dié verhaal moontlike rigtingwysers vir ons getuienis in die wêreld. Dit blyk uit die verhaal dat die getuienis van mense oor Jesus, in wese ’n uitnodiging is tot ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus. Dissipelskap is nie bloot ’n kwessie van hoorsê nie. Dissipels getuig van ons Here. Die inhoud van ons boodskap is Jesus, Seun van God.
Filippus se getuienis roep skeptisisme op by Natanael, maar in sy werklike ontmoeting met Jesus ervaar Natanael die krag van God wat in hom werk. Ons uitnodiging aan mense om te kom kyk wie Jesus is, skep geleentheid tot ’n ontmoeting wat hulle oë open vir wat God besig is om te doen in hulle harte en in die wêreld. Dit laat ons en hulle die oop hemel sien.