Week na Epifanie Jaar B: Vrydag 12 Januarie 2024
MARKUS 1:4-11
Daar is die afgelope tyd dikwels in dié meditasies verwys na geloofsdissiplines en die Christelike Kerkjaar. Geestelike dissiplines is belangrik vir geloofsvorming en groei in ons verhouding met God. Herhaling en ritmes ondersteun die vorming van geloofspraktyke. Een dissipline wat in die Christelike kerk gevestig het, is die onderhouding van die Christelike Kerkjaar. Dit is soos steierwerk waaraan God se verlossingsverhaal aangehaak word.
Die Kerkjaar dwing ons as’t ware om jaarliks die hoofmomente van God se verhaal te herbesoek en ons spesifieke omstandighede en persoonlike posisie daarin te beoordeel. Daarom is dit belangrik om die Evangelies jaarliks te lees. Dit vorm die raamwerk vir besinning oor God se oorkoepelende verlossingsverhaal. Dié jaar is die Markusevangelie aan die woord.
In die 2023/24-Kerkjaar was Epifanie (6 Januarie) op ’n Saterdag. In die Jesus-verhaal, laat Epifanie tradisioneel die lig val op die besoek van die wyse manne uit die Ooste. Matteus 2:1-12 vertel van dié besondere besoekers aan die Kindjie, Jesus in die krip in Betlehem. Dat mense uit die nie-Joodse wêreld kennis neem van Jesus se geboorte, word deur Matteus met sy Joodse fokus aan die orde gestel. Verrassend! Die goeie boodskap sluit ook heidene in!
Sondag ná Epifanie in die Kerkjaar herinner ons aan Jesus se doop deur Johannes die Doper in die Jordaanrivier. Ons lees daarvan in Markus 1:9-11. Twee gebeure uit Jesus se lewe, naamlik die besoek van die wyse manne by sy geboorte en Jesus se doop in die Jordaan, was vir die vroeë Christene tekens van God se “verskyning” in ons wêreld. Die woord “Epifanie” beteken verskyn of aankom.
In die kerklike seisoen van Epifanie vier ons God se openbaring, sy verskyning op aarde. God verskyn, handel, is aktief betrokke in ons aardse werklikheid. Aan die begin van die 2024-kalenderjaar sal baie van ons wil vra waar ons God kan verwag gedurende ’n onbekende jaar voor ons. Dié vraag soek perspektief oor waar en hoe ’n mens ’n nuwe tydvak begin, asook hoe ek bewus word van God se verskyning in ons leefwêreld.
Markus 1:9-11 vertel van Jesus se doop deur Johannes die Doper. Dit neem ons na die begin van Jesus se aardse bediening. Voordat die Gees Jesus die woestyn indryf en Hy deur Satan versoek word (Mark 1:12-3), en voordat Jesus sy verkondiging begin en die eerste dissipels roep om Hom te volg (Mark 1:16-20), is Jesus eers deur Johannes gedoop. Dáár openbaar die stem uit die hemel (God Self) Jesus se identiteit: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor jou verheug Ek My!” Dáár begin Jesus se aardse bediening in die vervulde bestemde tyd (Mark 1:15)
Dit is ons beginpunt vir elke dag en elke jaar. Jesus is die adres van God se openbaring aan ons. Later, by Jesus se verheerliking op die berg (Mark 9:7), het die stem uit die wolk sy identiteit en gesag bevestig, met ’n oproep: “Dit is my Seun, my geliefde, luister na Hom!”
Ja, luister na Jesus …