GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 15 JANUARIE 2024
RCL JAAR B – TWEEDE WEEK NA EPIFANIE
(Gebed na aanleiding van Psalm 139:1-6, 13-18, saam met 1 Samuel 3:1-10 en Johannes 1:43-51)
Here, die tweede Sondag ná Epifanie en opvolgende week –
se Kerkjaartema herinner aan roeping en gestuurdheid;
Jesus het in Johannes 1:43-51 sy aardse bediening begin,
en die eerste dissipels geroep om Hom te volg.
Is die woorde “volg My!”-
vandag nog deel van u woordeskat, Here?
Is die uitnodiging en aanspraak daarin,
ook vir my / vir ons bedoel in 2024?
Here, U wat my / ons ondersoek en ken –
het in ’n tyd toe daar nie ’n koning in Israel was nie
en elke mens gemaak het soos hy / sy wou (Rig 21:25),
vir Eli gesê U gaan ʼn betroubare priester aanstel,
wat volgens u wil en wens sal optree.
U het in die nag besoek afgelê by die seun Samuel,
en hom geroep vir ʼn taak wat mens se ore laat tuit.
Die Bybel sê Samuel het U toe nog nie geken nie,
maar U het hóm geken en by hom stilgestaan, Here.
Ja, U het weer in Silo verskyn,
en U het Uself deur u woord
aan Samuel geopenbaar, God van Israel.
Here, u opsoekende liefde en openbarende karakter,
laat die psalmis sprakeloos oor u deurtastende kennis;
te hoog vir sy verstaan, is u volledige kennis van die mens.
Só het U vir Samuel geken –
en tot priester oor Israel aangestel.
Só het U die psalmis geken –
U wat sy niere geskep het.
Here, nou kan ons ook reflekteer –
oor u roepingswoordeskat vir ons tyd.
U het u handpalms op ons / op my gelê.
U omsluit my / ons van agter en van voor.
Ek / ons prys U van harte, Here –
want wonderbaarlik is u werke.
U het my / ons in die moederskoot geweef.
Amen