Foto bo: Die ses bedienaars van Arbeidsbediening Worcester wat gehelp het met die aksie tydens die padblokkade: Ina Senekal, Kobus van den Bergh, Natale Roelofse, Yvonne en Willie van der Merwe en Johan Botha.
“Geluk met gister se padblokkade se bewusmakingaksie, maar ook die vriendelike boodskap wat motoriste ontvang het. Baie dankie ook dat Worcester Arbeidsbediening deel daarvan te kon wees. Die ses van ons wat daar was, het dit baie geniet.”
So skryf Kobus van den Bergh, geestelike werker van Arbeidsbediening Worcester aan Melinda Ferreira, publieke skakelpersoon by Rawsonville se polisiekantoor nadat hulle op Donderdag 14 Desember, deel uitgemaak het van ‘n padblokkade net buite Rawsonville. Kaptein Laetitia Southey, die polisiebevelvoerder van die stasie, was uiteraard ook deel van die aksie.

“Die padblokkade het, buiten die nodige voertuiginspeksie, ook gedien as ‘n bewusmakingsveldtog oor padveiligheid. Vier verskillende organisasies van die omgewing is hierby betrek waarvan Arbeidsbediening Worcester een was. Aangesien dit ook die begin van ‘n langnaweek en die somervakansie was, het ons tydens die padblokkade die motoriste positief benader met gesprekke en inligting oor ons bedieninge. Daar is pamflette oor wat ons werk behels aan hulle uitgedeel met die uitnodiging om ons te kontak indien nodig. Hulle is dan ook ‘n veilige reis en vreugdevolle vakansie toegewens. Motoriste het hopenlik daarna self positief gevoel teenoor die polisie en verkeersbeamptes. Die orige pamflette en inligtingsboekies wat oorgebly het, is by ander takke van Arbeidsbediening Worcester se besoekpunte uitgedeel.”

“Dit was Melinda wat ons voorsitter, Natale Roelofse, genader het met die versoek of ons deel van hul padblokkade sal wees tydens die afgelope vakansie in Desember.
“Arbeidsbediening Worcester het baie bedieningspunte waar hulle gereeld mense in hul plek van werk met bemoediging en geestelike leiding uit die Woord bedien. Hulle bedien egter nie net hul eie dorp nie, maar ook omliggende dorpe soos Rawsonville. Ons bedien hul polisiepersoneel en het al bande met van die offisiere tydens ander geleenthede en vergaderings opgebou. Tydens ons bediening daar op Rawsonville is Melinda die een wat ons lofsang gewoonlik met haar kitaar begelei.”
Kontak Kobus van den Bergh by arbeid8@gmail.com vir meer inligting.