GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 1 JANUARIE 2024
RCL JAAR B – EERSTE WEEK NA KERSFEES
(Gebed na aanleiding van Psalm 148 saam met Jesaja 61:10-62:3 en Lukas 2:22-40)
Halleluja!
Loof die Here, als wat lewe.
Want Hy het alles geskape.
Ook vir my en jou.
Laat ons die Naam van die Here loof,
Sy Naam alleen is hoog verhewe.
Die heerlikheid van ons Here,
omspan die ganse skepping.
Soos Jesaja (61) is ons verheug in die Here.
My / ons hele wese juig oor ons God.
Hy het vir ons klere van verlossing aangetrek.
Ons Here laat geregtigheid en lof uitspruit voor die nasies.
Op die eerste Sondag na Kersfees, en laaste Sondag van die kalenderjaar,
klink Simeon se loflied in ons ore op, as hy die kindjie Jesus,
in sy arms hou met sy wyding in die tempel:
“My oë het inderdaad u verlossing gesien,
’n lig wat vir die nasies tot openbaring dien.”
Here, ons sluit aan by Simeon en die psalmis se loflied van die skepping.
Ons het pas die geboorte van Christus gevier,
en begeer om die teken van verlossing te omhels.
Ons wil u Naam prys en U grootmaak!
Here, by die draaipunt van die jaargety –
is ons diep bewus van ons brose verganklikheid.
Ons het die jaar se uitdagings beleef en was dikwels ontwrig
Maar – ons het ook u sorgende liefde ervaar, en dankbaarheid leer ken.
Ons is afhanklik van U, Here ons Heer.
U het u volk sterk gemaak in moeilike tye.
U troue liefde is rede tot lof vir al u volgelinge.
Kinders van die Here, loof die Naam van ons Here,
want sy luister reik oor die aarde en hemel.
Omdat ons onthou wat U gedoen het, Here –
kan ons as dankbare mense vorentoe beweeg.
Ons stap die nuwe tyd binne met dankbare lof,
want ons het die teken van u Seun gesien.
Halleluja! Loof die Here dag en nag.
Amen