Lofgebed oor God se troue verbondsliefde in Advent

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 25 DESEMBER 2023
RCL JAAR B – VIERDE WEEK VAN ADVENT

(Gebed na aanleiding van Psalm 89:1-4, 19-26 saam met 2 Samuel 7:1-11 en Lukas 1:46-55)

God ons Verlosser –
Saam met Maria loof ons siel die Here.
Ons gees jubel omdat U ons raaksien,
in ons geringheid.

In die vierde week van Advent,
en die week van Kersfees –
onthou ons die groot dinge
wat U ook vir ons gedoen het.

Heilig is u Naam!

Saam met die psalmis wil ons altyd sing –
oor u troue liefde, Here.
Saam met geloofsgenote,
maak ons u trou aan geslagte bekend.

U troue liefde staan onveranderlik vas.
U verbond met u dienskneg, Dawid –
het U oor geslagte heen gevestig, Here.

U is die Here, Heerser oor alle magte.
U is die Een wat met Dawid was,
oral waar hy gegaan het.
U het hom met u heilige olie gesalf.

Die Heilige van Israel –
is Jesus, ons Koning.

Saam met Maria bely ons ook nou;
U bewys ontferming van geslag tot geslag –
aan hulle wat vir U ontsag het.
U versadig hongeriges met goeie gawes.

Dankbaar ontvang ons u belofte aan Dawid, as ons eiendom,
wanneer U sê: ‘My getrouheid en liefde sal met hom wees …’

Dit is ons loflied:
Die Magtige het groot dinge vir ons gedoen.
Heilig is sy Naam.

In Christus het u liefde ons oorwin.
Loof die Here, o my siel.

Amen