GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 18 DESEMBER 2023
RCL JAAR B –DERDE WEEK VAN ADVENT
(Gebed na aanleiding van Psalm 126 saam met Jesaja 61:1-11)
Here, met die Derde Sondag van Advent,
verwoord Psalm 126 en Jesaja 61
die paradoksale werklikheid
waarin ons geslag tans leef.
Terwyl Derde Advent vreugde verteenwoordig, Here –
en voorbereidings vir Kersfees toeneem,
raak Psalm 126:1 ons met uitdrukkings soos:
‘lot verander’ en ‘mense wat droom.’
Ons droom oor u beloofde nuwe toekoms, Here –
maar ons verlange na die goeie wat U doen,
verword tot nagmerries wat hoop vernietig.
Hier stort ons trane soos die huilende saaier.
O God van nuwe dinge –
ons wil aansluit by u verbondsvolk van ouds,
terwyl hulle op pad na die tempel onthou,
hoe U hul lot van ballingskap verander het.
Ons vertel in Advent aan mekaar die verhaal –
van hoe U in Christus die lot verander het,
van u volk, van u kinders – van hulle wat U dien.
U laat ons jubel en lag. Ja, U het ons verheug.
Op pad na Kersfees, afwagtend op u Seun se weerkoms –
verlang ons na die nuwe wat U belowe, Here.
Slegs U kan dit tot stand bring. En ons pleit:
“Verander weer ons lot, Here!”
God van vreugde, dankie vir die boodskap van Advent.
U vertrou dit aan ons toe, soos destyds vir Jesaja:
“’n goeie boodskap aan magteloses
en dié met gebroke harte.”
Here, ons sien verwagtend uit na u toekoms.
Terwyl ons met trane saai, glo ons u belofte,
dat ons in die toekoms sal maai met jubelkrete.
Ons is verheug oor wat U aanhou doen.
Here, ons erken en getuig vandag;
ons is óók ’n geslag vir wie U geseën het.
Ons dra ons gerwe jubelend voor U.
Amen