Eer die Here wat troon oor die watermassas

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 8 JANUARIE 2024
RCL JAAR B – WEEK NA EPIFANIE

(Gebed na aanleiding van Psalm 29 saam met Genesis 1:1-5)

Here, U heers vir ewig as koning. U troon oor die watermassas.
Dit moet gelowiges getuig, ná Kersfees en Epifanie.
U het u heerlikheid in Christus openbaar.
Ons buig in aanbidding voor u glansryke heiligheid.

Op die eerste Sondag van die nuwe kalenderjaar –
herinner die boodskap van Epifanie gelowiges dat
God openbarend in ons lewe teenwoordig is.
Here, U verskyn aan ons in talryke gestaltes.

Vir dié wat met geloofsoë deur die lewe gaan –
is U sigbaar in die wonder van die natuur rondom ons,
maar ook in die klein dingetjies,
wat aan ons daaglikse bestaan waarde toevoeg.

U gee krag aan u volk,
U seën u volk met vrede.

Aan die begin van ’n kalenderjaar, Here –
gee die gedagte dat U beide Skepper én Heerser is,
ons moed en hoop vir die nuwe tydperk.
U geopenbaarde skeppingswerk is ons waarborg.

Psalm 29 besing u krag en heerlikheid –
met die beeld van die Here se stem,
wat die mag van die natuur manipuleer.
Ja, die Here se stem is bo die magtige waters.

Here, die psalmis se digterlike spel met beelde oor u verskyning –
herinner aan hoe U in Genesis begin het om te skep.
U Gees het oor die oerwater gesweef,
en U het lig van donker geskei.
U het die ritme van dag en nag gevestig.

Kersfees en Epifanie laat ons onthou –
u Lig het in die donker wêreld kom skyn.
Jesus is as mens op aarde gebore!
Ons kan elke dag in sy lig leef.

Here, gaan tog voort met u skeppingswerk in die nuwe jaar.
Ons wil leer om u stem elke dag en oral te hoor.
Ons eer die heerlikheid van u Naam.
Ons buig in aanbidding voor u glansryke heerlikheid.

Amen