Die Evangelie van Jesus Christus

Revised Common Lectionary (RCL) 25: Tweede Week van Advent Jaar B: Vrydag 15 Desember 2023

MARKUS 1:1-8

Die begin van die Christelike Jaar, in die tweede week van Advent. Tweede Advent fokus tradisioneel op vrede, met die kenmerk van voorbereiding en onderliggende verlange. Jesus-volgelinge maak gereed om sy menswording te vier. Hulle berei reeds voor om die Messias te ontmoet wanneer Hy aan die einde van tyd weer na ons toe kom. Daarom is daar ’n gees van afwagting en verwagting in die harte van Jesus se kerk en dissipels. Jesus is komende. Die nuwe staan op die punt om aan te breek.

Markus wys hoe ons die nuwe wat kom, moet benader. Hy noem ook waarmee ons besig behoort te wees in die tyd van afwagting en gee perspektief oor ons posisie in verhouding tot Christus. Met die nuwe siklus in die Christelike Jaar herinner Markus ons aan waar die goeie nuus (evangelie) begin, asook aan die inhoud van die blye boodskap; Jesus Christus, die Seun van God. Hy is deur Maleagi en Jesaja aangekondig (vers 2). Die goeie nuus oor die nuwe wat kom, het ’n geskiedenis. Hier is sprake van belofte en vervulling. Die bevryding is reeds bewerk, maar die oorwinning is nog nie finaal nie.

Markus verbind die Ou-testamentiese profetiese lyn met Johannes se bediening. Die Doper beskryf sy roeping en taak in terme van die profesieë van Maleagi en Jesaja. Johannes wys heen na Maleagi 3:1 se boodskapper wat die pad gereedmaak en die stem van iemand wat roep in die woestyn (Jes 40:3). Hy is ’n wegbereider vir die komende Messias en ’n stem wat in die woestyn roep dat mense hulle moet bekeer. Die Een wat na Johannes kom, is die Een wat met die Heilige Gees sal doop.

Aan die begin van sy verhaal verklaar Markus iets het gebeur wat alles verander het. Hy stel ’n boodskapper (Johannes) bekend wat uit die woestyn roep en aandag vestig op die toekoms. Die stem in die woestyn wys op Hom wat mense ondubbelsinnig roep om die nuwe weg van bekering te kies. Die doop is die simbool van die onbetwisbare roep tot bekering en nuutheid. Die doop handeling wys op ’n skoon breuk met die sondige verlede en die aanbreek van ’n nuwe begin.

Johannes het geen onsekerheid oor wat sy rol is nie. Hy is bloot die stem wat roep, die wegbereider vir die Een wat na hom kom en sterker is as hy. Johannes erken sy eie onwaardigheid en nietigheid in verhouding tot die komende Sterkere: “Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie.” Die Doper plaas ook die doop wat hy bedien in perspektief. Die Een vir Wie hy die weg berei, sal met die Heilige Gees doop, tot ’n lewe van kragtige getuienis en oorwinning.

In Advent verkeer Jesus se dissipels in ’n staat van afwagting en voorbereiding. Daarom moet ons goed verstaan op Wie ons wag en waarvoor ons voorberei. Ons staan in die tradisie van Johannes die Doper en die Ou-testamentiese profete. Ons is wegbereiders vir en verkondigers van Jesus Christus, die Seun van God. Ons getuig God se koninkryk het rééds met Jesus se menswording gekom. Dit is die goeie nuus. Maar Hy kom weer! Daarvoor maak ons gereed, berei ons doelgerig voor. Die doop herinner aan die nuwe opstandingslewe in Christus.

“Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit.” Hy wat sterker as Johannes die Doper is, en sterker as enige van ons, Hy kom!