‘n Gebed om vrede in Advent

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 11 DESEMBER 2023
RCL JAAR B –TWEEDE WEEK VAN ADVENT

(Gebed na aanleiding van Psalm 85:1-2, 8-13 saam met Jesaja 40:1-11)

O God wat ons verlos –
U was goed vir u land.
U het die lot van Jakob verander (2020-vertaling),
aan Jakob se nagelsag ’n nuwe toekoms gegee (1983-vertaling).

In die week van Tweede Advent,
verlang ons, soos die ballinge destyds,
na u troue liefde, om u verlossing te beleef.
Ons smag na u reddende hulp.

Here, U praat oor vrede vir u volk.
U beloof verlossing vir u getroue volgelinge;
dat u heerlikheid ’n tuiste kan hê in ons land,
dat ons nie weer na dwaasheid sal keer nie.

Ons berei voor vir Kerfees;
om Jesus se menswording op aarde te vier.
Ons verlang dat U ons herstel,
’n nuwe toekoms gee, God wat ons verlos.

Ons hoor Jesaja 40 se boodskap van troos,
aan die Joodse ballinge in Babilon.
Ons omhels sy aankondiging van hoop,
in ons drukkende konteks: “Hier is julle God!”

Die tema van vrede tipeer die Tweede Advent.
Aangrypend beskryf die psalmis, dié toestand.
Dit behels ’n ontmoeting, Here;
tussen troue liefde en waarheid.

Die vrede van God wat mens word,
het die karakter van omhelsing;
dit omsluit geregtigheid,
wat vanuit die hemel afkom.

Here, God wat ons verlos –
gee ons ’n nuwe toekoms, herstel ons wêreld.
Laat die geboorte van Christus dié Waarheid,
vrede op aarde bring en genesing vir die mense.

Here, laat u heerlikheid,
in ons land ’n tuiste vind,
in hierdie dae van afwagting.

Amen