Revised Common Lectionary (RCL) 24: Eerste Week van Advent Jaar B: Vrydag 8 Desember 2023
“Die herhaalde opvoering van God se verlossingsplan deur die kerklike feeste in die Kerkjaar, herinner gelowiges aan hul Christus identiteit.”
MARKUS 13:24-37
Arbeidsbediening se weeklikse meditasie oor toerusting vir dissipelskap in die wêreld van werk en dienslewering sluit met hierdie bydrae aan by die nuwe Kerkjaar (Liturgiese Jaar). Dit het 3 Desember afgeskop met die Eerste Sondag van Advent. Deel van dissipelskaptoerusting is die vestiging van geloofsdissiplines om ritmes te ontwikkel vir ons aanbidding van en toewyding aan God (Gods-diens). Daaruit vloei dan ons diens in die koninkryk van God en die wêreld.
Die Kerkjaarkonsep het oor tyd heen in die wêreldkerk ontwikkel. Dit begelei gelowiges in hul diens aan God, deur jaarliks God se verlossing vir die wêreld op te voer. Die Kerkjaar begin met vier Advent-Sondae voor Kersfees. Die kerklike seisoene en feeste deur die Kerkjaar dien as handvatsels vir gelowiges om God se betrokkenheid by sy skepping te fasiliteer. Die herhaalde opvoering van God se verlossingsplan deur die kerklike feeste in die Kerkjaar, herinner gelowiges aan hul Christus identiteit.
As geloofsdissipline het dit waarde om meer uit te vind oor hoe die Kerkjaar Jesus se dissipels begelei om geloofsgetrou te lewe en te dien. Vir dié meditasie is dit voldoende om kennis te neem van die Kerkjaarkonsep en dat dié meditasierubriek daarby aansluit. Die Revised Common Lectionary (RCL) is ’n teksroosters van die wêreldkerk (ekumene) wat gelowiges deur die Kerkjaar begelei. Ons neem net kennis hiervan. Ons moet wel weet die tekste van dié meditasierubriek kom uit die RCL. Dit het drie siklusse wat tekste in Jaar A, B en C rangskik om die Bybelverhaal te vertel. Ons sluit hier aan by Jaar B, met Markus se vertelling as basis vir oordenking van die evangelie van Jesus.
Hoofstuk 13 is Markus se weergawe van Jesus se profetiese rede, wat ook in Matteus 24-25 voorkom. Ons oordink Markus 13:24-37 in die week na die Eerste Sondag van Advent. Volgens die kerklike tradisie fokus die Eerste Advent op die kategorie ‘hoop’. Dit is dus ’n eerste lens waardeur ons die teks lees. ’n Tweede lens wat Advent aanbied, is dié van verwagting en afwagting. Ons is op pad na die viering van Kersfees; die geboorte van God se Christus vir die wêreld. Dié vooruitsig vul ons met opwinding en verwagting. Dit konfronteer ons met die vraag na die inhoud van ons hoop.
In Markus 13:32 beklemtoon Jesus dat net die Vader kennis het van die dag en uur waarop die Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke kom (vers 26). Die gelykenis in vers 34 oor ’n man wat op reis is en sy huis agterlaat in die beheer van sy slawe, beklemtoon juis die rol van hoop in die lewe van Jesus se dissipels, terwyl ons wag op Jesus se koms. Vir ons is dit belangrik om te hoor dat die eienaar aan elke slaaf ’n eie taak opgedra het. Daardie taak moet waaksaam verrig word gedurende die tyd van afwagting en verwagting. Niemand weet wanneer die eienaar (Jesus) kom nie.
Advent maak ons bewus van iets nuuts wat gaan kom. Dit maak ons opgewonde en laat ons met afwagting uitsien na Hom waarop ons hoop. Verrig jou eie taak wat die Here aan jou opgedra het op sodanige wyse dat die hoop wat in jou leef neerslag vind in jou waaksaamheid elke dag.